Briljante All Blacks oordonder futlose Iere

Die All Blacks doen die haka voor hul wedstryd teen Ierland (19 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Wanneer mens vir jou ouma gaan kuier het, het jy gewoonlik tee en koekies op ’n skinkbord gekry. Maar in Japan werk dinge klaarblyklik effens anders: Dáár kry mens sommer ’n rugbywedstryd op ’n skinkbord!

Die All Blacks het vroeër hul Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Ierland verspotmaklik met 46-14 gewen. Tog so briljant soos wat die Nieu-Seelanders was, so hard het die Iere probeer om die wedstryd op die voorafgenoemde skinkbord vir Steve Hansen se span te gee.

Want as daar een span in wêreldrugby is teen wie jy nie moet foute maak nie, dan is dit die All Blacks.

Ná net meer as 10 minute se spel was dit slegs Richie Mo’unga se strafskop wat die verskil was tussen die twee spanne. Maar toe Aaron Smith kort daarna vir die All Blacks se eerste drie oorgeval het, het die Ierse damwal in ’n duisend stukkies gebreek.

Nóg ’n Smith-drie en ’n tikkie individuele sokkerbriljantheid deur Beauden Barrett het gesorg dat die Iere ’n gebroke span teen rustyd was. Maar kom ons wees eerlik – hulle was sedert hul skoknederlaag teen Japan nie die die gelukkigste span ter wêreld nie.

Om groot woorde te gebruik – hul esprit de corps was beslis aan die floukant.

Nieu-Seeland se Aaron Smith (9) vier ‘n drie saam met sy spanmaats (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Toe Codie Taylor net ná rustyd die All Blacks se vierde drie gedruk het, was die skrif aan die muur vir die Iere en hulle kon waarskynlik nie eens aan ’n terugvegpoging dink nie, newwermaaind om een van stapel te stuur.

Vir diegene wat gedink het die All Blacks het ’n té maklike pad na die kwarteindstryd gehad en dat hulle ietwat onvoorbereid vir die uitspeelrondes was: Kieran Read en sy span het vandag gewys waarom hulle die wêreldkampioene is. En waarom hulle waarskynlik wéér die trofee omhoog sal hou.

Puntemakers:

All Blacks: Drieë: Aaron Smith (2), Beauden Barrett, Codie Taylor, Matt Todd, George Bridge en Jordie Barrett. Strafskop: Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (4).

Ierland: Drieë: Strafdrie, Robbie Henshaw. Doelskop: Joey Carbery.

  • Die All Blacks speel teen Engeland in die halfeindstryd van die toernooi, nadat die Rose vroeër met Australië in hul kwarteindstryd afgereken het. Baie kenners is juis van mening dat die Britte se terriëragtige manier van speel hulle die enigste span maak om die All Blacks te troef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Swartwolf ·

Bokke het maklike pad – Japan, wenner van Wallis/Frankryk, finaal. Semi tussen England/AB’s eintlik die finaal. Bokke se vaste voorspelers kan kompeteer met albei, maar nie die los voorspelers of agterlyn nie. Sien probleme vanaf semi’s vir bokke.

AB ·

Puik spel van die wêreld se beste span! Daar is nie ‘n span wat hulle in hierdie toernooi gaan klop nie!!

Poot ·

@AB
Never say never. AB’s sien dalk nie eers die finals nie.

Gert van Wierdapark ·

Gelukkig vir die Iere het hul darem meer as 20 punte gekry, anders het hul nie kwalifiseer vir ‘n drankie na die wedstryd nie! Met soveel balle wat hul weggeskop het in die keelgate van die kookwater All Blacks, vlei die telling hul eintlik!

Vita ·

All Black is baie goed, maar die semis gaan rof wees, England nie net oorstoot nie, seld SA se semis gaan nie maklik wees nie, WB raak nou goed

Pietsnot ·

Ja, Swartwolf, net soos in 2007 toe die Bokke net vir Fidji en England moes klop om die beker te wen. Laat die top 10 lande elk n rondte teen mekaar speel. Die beste 4 speel dan semi’s.

Valerie ·

ABs briljant. SA het net ‘n novelty speler in Kolbe en absoluut niks anders nie. Beauden Barrett; wat ‘n speler is daai darem nie. Frankryk/All Black finaal? ABS all the way; geen twyfel. SA het geen teenvoeter vir die AB krag en vernuf nie.

TwaalfBoor ·

@Valerie
Engeland gaan AB’s uit die finals uithaal met die semi’s

Poot ·

@Valerie
Nou waar is jou Frankryk/AB final voorspelling nou? Soos Twaalfboor sê…. belese met jou woordeskat maar baie onkundig met rugby.

Dubbelloop ·

Is goed om elkeen se kommentaar hier te lees, maar wragtig, moenie die beker noual vir ander lande gee nie. Gee vir Rassie en almal darem n kans. Onthou net wat hy sovêr vermag het onder die dêm politieke druk. Hy is daar, hy is clever en n goeie afrigter, en sovêr werk die dinge nog uit. Kom ons hou duime vas dat SA goed sal doen en dalk die beker huistoe bring.

Robert ·

Die Iere het nie opgedaag vir die wedstryd nie, die eerste drie van Aaron Smith was onwettig, ‘n All Black speler het oortree reg voor Nigel Owens net voor die drie gedruk is :-(

Vintcent ·

Engeland het n goeie span. Sterk en vinnige spelers, met ook fyn afgeronde spel. Op meriete behoort hul en ABs eintlik in finaal te gespeel het. Dalk tyd dat formaat van toernooi verander word. Nooi net die 8 beste lande en laat elkeen teen mekaar speel. Top twee dring dan outomaties deur na finaal.

Frans C ·

Die All Blacks het die voordeel dat hul spanne dominant in Superrugby is en hul afrigters
en spanne dieselfde spanpatroon speel.Dit gee hul afrigters ‘n voorsprong bo al die ander afrigters wat spanne uit verskillende spelpatrone moet saamvoeg tot ‘n eenheid.

Die Engelse span is ‘n ‘flash in the pan’ span en vind baat by Jones se strategiese beplanning en Mitchell se afrigting.’n Wallabie en NZ-lander sit dus agter Engeland se sukses.Plaaslik moet Rassie raap en skraap en almal probeer tevrede hou,van politici tot publiek en uit al die verskeidenheid van idees en patrone ‘n span te bou wat tot dusver
bo verwagting goed gevaar het.

TwaalfBoor ·

Rugby kenners wat hierdie raaksien. Ek stem saam jou FransC

Therese ·

Die briljante All Blacks het wraggies ‘n klug van die Ranglys gemaak!
Kan nie sien dat énige span hulle gaan onttroon as wêreldkampioene nie.

Dubbelloop ·

Therese jy en Human het reeds besluit wie die beker gaan wen. Die AB is goed maar hulle kan gewen word en die Bokke kan dit doen. Die Bokke moet nie dieselfde foute maak teen hulle sois in die eerste wedstryd nie en dit het gelei toot 2 drieë. Die tweese helfte is loshande deuur die Bokke gewen. SA kan die beker huistoe bring.
FransC en 12boor ek like julie comments en visie. ????

Human ·

Dubbelloop dis somtyds maar moeilik om die waarheid te aanvaar en te verwerk.

Bloues ·

Frans C. Ek dink rerig nie Rassie hoef te raap en skraap nie. In SA is genoeg talentvolle spelers wat die AB kan klop. Dink maar om Willie te vervang met Bosh, om Mrx te vervang met Dweba. Albei ons senters is nie die beste in SA nie. Om talent raak te sin en dit e ontwikkel is n eienskap wat n afrigt moet he. Ek dink nie Rassie het dit nie.

Human ·

Twaalfboor is jy `n enkelloop of dubbelloop, klink my jou lope is verstop.

JohanL ·

NZ het inderdaad goed gelyk en begin nou spoed optel. Iere was teleurstellend swak – en het nie gespeel soos een van die sogenaamde aanspraakmakers nie. Die wedstryd was dalk die grootste anti-klimaks van die 4 kwarteind stryde. Ons het almal so goeie tweestryd verwag.

FransC, jy mag korrek wees in jou opsomming van Engeland onder die invloed van Steady Eddy, maar dit is juis dink ek wat vir die duur van die toernooi, van Engeland so gevaarlike span maak. Al is hulle ‘n “flash in the pan” vir die duur van die toernooi – dit is wat saak maak. En Engeland is ‘n wesenlike gevaar. Ek dink die NZ / Engeland wedstryd gaan ‘n reuse wedstryd wees en ek wonder in hoe ‘n mate gaan die wenner (wie dit ookal gaan wees) ge-affekteer wees in die finaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.