Brown wil Bok-drieë sien

Tony Brown is een van die Springbokke se nuwe assistent-afrigters. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Tony Brown, ʼn talentvolle losskakel wat die All Blacks in 18 toetse verteenwoordig het, is die man wat moet toesien dat die Springbokke ook so ʼn bietjie met die bal op die rugbyveld baljaar.

Die 49-jarige Nieu-Seelander is vroeër deur Rassie Erasmus nadergetrek om ʼn wakende oog oor die Bokke se aanvalstrategieë te hou.

Volgens Brown het hy nog altyd die Springbokke se benadering tot die spel waardeer en bewonder. Goeiste, Henry Honiball was selfs sy gunstelingspeler.

“Dit is ʼn voorreg om die Springbokke in aksie te sien en dit is ʼn eer om deel van die groep te wees,” het hy gesê.

Hy reken dat hy ʼn verskil in die Bok-kamp kan maak – Nieu-Seelandse spelers en afrigters is immers meesters van aanvallende rugby – maar hy gaan nie aan die span se DNS karring nie.

“As ons dinge net op so op die aanval as in die ander fases van die spel kan oorheers – en dit kombineer met ons topspelers en hul uitstekende toewyding – glo ek dat ons ʼn dominante krag in wêreldrugby sal bly.

“Die Bokke het hul eie identiteit en hul fisieke spel is ʼn baie belangrike skakel in hul mondering. Terselfdertyd spog die span met ongelooflike atlete; van die beste in die wêreld.”

Die oudagterspeler, wat ook in ʼn paar wedstryde vir die Stormers en die Sharks gespeel het, meen dat hy beslis waarde tot die Springbokke se aanvalsvaardighede kan voeg.

“Dit is egter die belangrikste vir ons om in die stadium meer tyd saam met die spelers te spandeer sodat ons hulle beter kan leer ken. Daarna kan ons op die toekoms en ons benadering konsentreer.”

Hoofafrigter Rassie Erasmus het vroeër gesê hy is tevrede met sy nuwe Bok-afrigtingspan se voorbereiding agter die skerms en dat hulle gretig is om aan die gang te kom.

“Almal was hard besig om die opposisie vir die internasionale seisoen te ontleed sedert ons die nuwe afrigtingspan gefinaliseer het en ons kan nie wag om die seisoen te begin nie.

“Ons het tyd om ons strukture en stelsels in plek te kry en ons sal geen steen onaangeroer laat terwyl ons hierdie nuwe reis aanpak om op te bou na die 2027-Wêreldbeker in Australië nie.”

Springbokke se wedstrydbepalings:

Saterdag, 22 Junie: SA vs Wallis (Twickenham, Londen)

Saterdag, 6 Julie: SA vs Ierland (Loftus Versfeld, Pretoria)

Saterdag, 13 Julie: SA vs Ierland (Kingspark, Durban)

Saterdag, 20 Julie: SA vs Portugal (Toyota-stadion, Bloemfontein)

Saterdag, 10 Augustus: Australië vs SA (Suncorp-stadion, Brisbane)

Saterdag, 17 Augustus: Australië vs SA (Optus-stadion, Perth)

Saterdag, 31 Augustus: SA vs Nieu-Seeland (Emirates Airline Park, Johannesburg)

Saterdag, 7 September: SA vs Nieu-Seeland (DHL-stadion, Kaapstad)

Saterdag, 21 September: Argentinië vs SA (venue moet nog bevestig word)

Saterdag, 28 September: SA vs Argentinië (Mbombela-stadion, Nelspruit)

16/17 November: Engeland vs SA (Twickenham, Londen – datum moet nog bevestig word)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.