Bulle-Griekwas-kragmeting weens Covid-19 afgelas

Foto: Twitter.

Die Curriebekerwedstryd tussen die Blou Bulle en die Griekwas in Kimberley is weens Covid-19 afgelas.

Die besluit is vanoggend geneem nadat spelers en spanbestuurslede van die Pretoriase span positief vir Covid-19 getoets het.

Volgens SA Rugby (Saru) sal elke span twee punte vir die wedstryd ontvang. Dit sal beteken dat die Bulle – die voorlopers op die punteleer – 35 punte sal hê.

Die ander twee wedstryde hierdie naweek – die Pumas teen die Cheetahs en die Haaie teen die Leeus – sal voortgaan.

’n Paar rugbywedstryde, waaronder die Lions en Cheetahs se Superrugby Unlocked-kragmeting, is al weens Covid-19 afgelas, terwyl die Protea-krieketspan se eendagreeks teen Engeland ook deur positiewe gevalle in die slag gebly het.

Jimmy Stonehouse, die Pumas se hardebaard-breier, het in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê die grootste uitdaging vir ’n afrigter in die Covid-19-era is om te verhoed dat spelers die virus opdoen.

Anders as die meeste ondernemings toets rugby-unies weekliks hul spelers vir Covid-19, terwyl die media die uitslae met valkoë dophou.

“Jy kan jou spelers soveel as moontlik probeer beskerm, maar jy weet nie watter restaurant of winkel hy gaan besoek waar hy die virus moontlik kan opdoen nie. Dit is waaroor jy jou weekliks die meeste bekommer: Wie is positief wanneer die toetse gedoen word?” het Stonehouse gesê.

  • Curriebeker se punteleer (soos op 17 Desember 2020):
  1. Blou Bulle 33 punte
  2. Haaie 28 punte
  3. WP 26 punte
  4. Leeus 25 punte
  5. Cheetahs 17 punte
  6. Pumas 11 punte
  7. Griekwas 5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans ·

Dit wys weereens hoe ontwrigtend Covid-19 kan wees,Gelukkig vir die Bulle volg ons nie die Europese voorbeeld nie-want dan het die Griekwas die Bulle 28-0 geklop en volpunte gekry,

Alexander ·

Goeie nuus vir die haaie, slegte nuus vir die bulle. Hulle kon maklik 5 punte verdien het maar moet nou met 2 tevrede wees. Ek hoop van harte dat die leeus die sharks sal verslind.

Alexander ·

En om alles te kroon het die bulle waarskynlik die pes onder lede gekry in Durban, en nou gaan die haaie daaruit voordeel trek. En tog speel die haai die naweek ten spyte van die feit dat van hul spelers ook positief getoets het.

Anton ·

Hoe is dit moontlik? Dra hulle nie maskers, was hulle hande en social distance hulle nie? Sulke karnallies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.