Bulls kyk nou vorentoe

 (Foto: Official Blue Bulls/Twitter)

Die Bulls-spelers hoef nie in vrees te lewe nie dat daar op hulle geraas en geskree gaan word ná hul verrassende nederlaag die afgelope naweek teen die Glasgow Warriors in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Die span se ervare afrigter, Jake White, sê die nederlaag van 21-35 was bitter teleurstellend en waarskynlik die span se vrotste vertoning in meer as ’n jaar, maar hoort tot die verlede.

Die Warriors het die Bulls van hul voete af gehardloop en Franco Smith se span het vyf drieë teenoor die drie van die besoekende Suid-Afrikaners gedruk.

“Ek het vir die spelers gesê ek is bitter teleurgesteld en hulle weet dit. Die spelers is ewe teleurgesteld in hulself.

“Ek gaan nie op hulle raas en skree nie. Ek is nie daardie soort afrigter nie. Daar is nog ’n lang seisoen wat voorlê en een nederlaag beteken nie ons kan nie die kompetisie meer wen nie. Wat die naweek gebeur het, hoort tot die verlede,” sê White.

Die gewese Bok-breier wou ook nie sy span se reisreëlings as verskoning gebruik vir hul vrotsige vertoning teen die Warriors nie. Dit het die Bulls langer as 25 uur geneem om hul bestemming te bereik.

“Dit het die Lions 27 uur geneem om by hul bestemming uit te kom en hulle het gewen.

“Ons was eenvoudig nie goed genoeg op daardie dag nie. Ons het soos jong seuns gelyk en op die verdediging heelwat duikslae gemis om hul momentum te gee.

“Die verskil tussen wen en verloor is baie klein. Ons sal vandeesweek groter fokus op ons voorbereiding plaas en sorg dat ons reg is vir Saterdag se kragmeting met Munster in Limerick,” sê White.

Die Bulls-breier is egter lugtig vir Munster.

“Hulle is ook onder druk ná ’n paar nederlae, maar is ’n ervare span met hope internasionale spelers in hul geledere. Dit sal bars teen hulle op hul tuisveld,” het White oor die voornemende strawwe wedstryd gesê.

Die ander drie SA spanne het die naweek ook almal moeilike neute om te kraak.

Die Stormers meet Vrydagaand in Swansea met die Ospreys kragte, waarna die Lions Saterdag op Ellispark op hul allerbeste sal moet wees indien hulle Ulster wil troef.

Die Sharks is die laaste SA span in aksie. Hulle speel teen die Glasgow Warriors en sal nie soos die Bulls deur die Skotte uitoorlê wil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter9 ·

‘n SA rugby siekte, Bokke ingesluit. Het nie die vermoe om as gunsteling te presteer nie.

piet ·

Ek sou nie juis se die nulle was gunstelinge daar nie. Gaan maar broekskeur oorsee gewoonlik vir ons spanne.

N ·

Koop nog speler dringend Jake White. Die klomp is nie genoeg nie.

SjN ·

Jake, die wat onder presteer, slaan hul met die tjekboek soos Louis Luyt gedoen het, hul word mos vergoed vir hul diens soos deur afrigter se standaarde en vereistes.

Frans ·

Wat my die meeste pla van SA spanne is dat die spanne met die diepste beursies nl die Bulle en
Sharks op die oomblik die swakste oorsee vaar. Hier maak geld wat stom is tans nie reg wat krom is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.