Bulls oorgehaal vir Scarlets-stryd

Die Bulls se Chris Smith. Foto: GB Jordaan.

Ná verlede naweek se Kampioenebeker-treurmare teen Lyon sal die Bulls môre weer op die wenpad in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Scarlets wil klim.

Johan Goosen skuif heelagter toe nadat hy teen die Fransmanne op losskakel gesukkel het, terwyl Chris Smith die nommertientrui sal dra.

Die opwindende Stravino Jacobs kry ook sy kans in Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie se afwesigheid.

Die 22-jarige Jacobs beïndruk gereeld met sy dartellopies wanneer hy speelkans kry en sy insluiting beteken dat die Bulls se agterlyn steeds oor ʼn X-faktorspeler beskik.

Voorlangs gee Nizaam Carr weer die kapteinskapleisels aan Ruan Nortjé oor nadat die slot verlede naweek die plaasvervangerbank warm gehou het.

Stravino Jacobs kry sy kans. Foto: GB Jordaan.

Chris Rossouw – wat die afrigterfluitjie in Jake White se afwesigheid vashou – meen dat die Scarlets daarvan hou om aanvallende rugby op hul tuisveld te speel.

“Hulle het in die afgelope twee maande ʼn goeie balans tussen hul aanvalswerk en skoppe gevind en dit is belangrik dat ons nie ons helfte vasgepen word nie. Hulle het ʼn goeie pak voorspelers en ʼn ervare agterlyn,” het Rossouw gesê.

Die Bulls se agterlynafrigter is egter oorgehaal om vuur met vuur te beveg.

“Ons moet met die fisieke spel vorendagkom waarvoor Suid-Afrikaanse spelers bekend is.”

Die wedstryd begin Vrydagaand om 21:35 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Johan Goosen (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Janko Swanepoel, Nizaam Carr, Embrose Papier, Cornal Hendricks en Wandisile Simelane.

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 56 punte ná 12 wedstryde
  2. Stormers: 45 punte ná 11 wedstryde
  3. Bulls: 39 punte ná 12 wedstryde
  4. Ulster: 38 punte ná 11 wedstryde
  5. Glasgow Warriors: 34 punte ná 11 wedstryde
  6. Benetton: 33 punte ná 12 wedstryde
  7. Munster: 32 punte ná 12 wedstryde
  8. Edinburgh: 30 punte ná 12 wedstryde
  9. Sharks: 29 punte ná 10 wedstryde
  10. Cardiff: 29 punte ná 12 wedstryde
  11. Connacht: 25 punte ná 12 wedstryde
  12. Lions: 24 punte ná 11 wedstryde
  13. Ospreys: 24 punte ná 12 wedstryde
  14. Dragons: 17 punte ná 12 wedstryde
  15. Scarlets: 17 punte ná 12 wedstryde
  16. Zebre: 5 punte ná 12 wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.