Bulls slaan terug teen Chiefs

Wandisile Simelane op die oorlogpad. Foto: GB Jordaan.

Ná ʼn jong Bulls-span se gestotter teen die Exeter Chiefs weg van die huis, het die hardebaarde met mening teen die sterk Engelse span op Loftus Versfeld teruggeslaan.

Die Pretorianers het ses drieë gedruk om die bordjies met 39 – 28 te verhang. Sodoende het hulle na die vyfde plek op die Kampioenebeker-punteleer vir Groep A geskuif.

Die eerste helfte kan met twee swaargewigboksers vergelyk word wat mekaar versigtig sirkel en dan af en toe met mening ʼn uitklophou probeer plant. Terselfdertyd het die Franse skeidsregter Mathieu Raynal oënskynlik sy bes probeer het om die skrums so veel as moontlik te ontwrig.

Tog het die Bulls genoeg gedoen om ʼn rustydvoorsprong van 20 – 14 op te bou.

Vroeg in die tweede helfte het Raynal sy dyspier beseer en Thomas Charabas moes in sy plek die fluitjieblaaspligte oorneem.

Die 33-jarige skeidsregter het ʼn kort rukkie later sy stempel op die wedstryd afgedruk toe hy vir Henry Slade met ʼn rooi kaart van die veld gestuur het.

Slade het die vlugvoetige Kurt-Lee Arendse probeer plattrek en sy arm het van die blitsige Bok se skouer na sy nek gegly.

Talle Exeter-ondersteuners het gemeen dat dit slegs ʼn geel kaart regverdig het en jy kon hulle seker met ʼn veertjie omtik toe Charabas die rooi kaart te voorskyn bring.

Die besoekers het egter nie tou opgegooi nie en hulle het twee troosdrieë laat in die wedstryd gedruk. Die voormalige Bulls-speler, Jannes Kirsten, was vir een van hierdie puntepogings verantwoordelik.

Elrigh Louw en die res van die Bulls-voorspelers kan hulself ’n klop op die skouer gee. Foto: GB Jordaan.

Ná ʼn moeilike week vir die tuisspan – Jake White moes verlede Sondag ʼn noodoperasie ondergaan – het hulle met ʼn stewige vertoning teen die Chiefs vorendag gekom.

Arendse het saam met ʼn vlieënde Wandisile Simelane gewys dat die Bulls oor meer as genoeg spoed en vernuf in die agterlyn beskik, terwyl die voorspelers oudergewoonte hul stempel afgedruk het.

Die Bulls het 11 keer omgekeerde besit bewerkstellig, terwyl Ruan Nortjé ʼn allemintige 19 duikslae uitgevoer het.

Dit is inderdaad baie moeilik vir besoekende oorsese spanne om op Loftus Versfeld te wen.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Wandisile Simelane (2), Elrigh Louw, David Kriel, Ruan Vermaak en Johan Grobbelaar. Doelskoppe: Chris Smith (2) en Johan Goosen. Strafskop: Smith.

Exeter Chiefs: Drieë: Josh Hodge, Solomone Kata, Jannes Kirsten en Jack Innard. Doelskoppe: Joe Simmonds (2) en Harvey Skinner (2).

  • Kampioenebeker-punteleer (Groep A):
  1. Leinster: 15 punte
  2. Sharks: 14 punte
  3. Saracens: 14 punte
  4. Exeter: 11 punte
  5. Bulls: 10 punte
  6. Edinburgh: 6 punte
  7. Harlequins: 5 punte
  8. Gloucester: 5 punte
  9. Lyon: 3 punte
  10. Bordeaux: 2 punte
  11. Racing 92: 1 punt
  12. Castres: Geen punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.