Bulls wil dinge warm vir Saracens op Loftus maak

Kurt-Lee Arendse druk ’n drie teen die Sharks.(Foto: GB Jordaan)

Saracens is een van die heel beste rugbyspanne in Europa. ʼn Vinnige internetsoektog wys dat dié Engelsmanne reeds ses keer met die Premierliga-louere weggestap het, terwyl hulle ook al ʼn paar keer die Kampioenebeker-silwerware omhoog gehou het.

Hulle is egter nou op ʼn vinnige Suid-Afrikaanse Kampioenebeker-safari waar die Bulls op Loftus Versfeld wag.

En hopelik het hulle genoeg sonbrandroom ingepak.

Want al word die wedstryd eers Saterdag om 19:30 beslis, verwag die weerburo maksimumtemperature van 31 °C, 29 °C, 33 °C en 34 °C in aanloop tot die kragmeting.

Om dinge net vinnig in perspektief te plaas: The Guardian berig dat dit skaars 5 °C in Londen was toe Saracens na sonnige Suid-Afrika gevlieg het.

Daarbenewens kan die Bulls selfs onder die spreiligte die kwik in die Jakarandastad laat styg.

Fort Loftus is immers nie meer net ʼn bastion waar groot voorspelers jou rondpluk en terugdryf nie; deesdae word daar ook drieë in Pretoria gedruk.

Stedman Gans op die aanval. (Foto: GB Jordaan)

In die laaste drie wedstryde op Loftus Versfeld het die Bulls 160 punte aangeteken en 22 drieë gedruk om onder meer met die Sharks en Connacht af te reken.

En dit lyk of Jake White ʼn soortgelyke resep teen Saracens wil volg.

“Ons wil nie net heeltyd probeer om ander spanne met ons fisieke spel te oorrompel nie – ons wil ons voor- én agterspelers in ʼn wedstryd gebruik. Ek sal graag wil toesien dat die Bulls se verdediging en spel in die vaste fasette op standaard is, terwyl ons ook goeie aanvallende rugby speel,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

Boonop is die tuisspan-spelers oorgehaal om hul stempel teen die Engelse besoekers af te druk.

“Saracens is ’n span van wêreldgehalte wat met internasionale spelers gelaai is en ons sal ongetwyfeld vir elke liewe punt moet werk. Tog staan ons ʼn kans om te wen,” het Sebastian de Klerk gesê.

Khutha Mchunu stem heelhartig met die voormalige agterlynster van die Pumas saam: Die Bulls wíl wedstryde teen topteenstanders wen.

“Ons is gefokus om die eerste nie-Europese span te word om die Kampioenebeker te wen. Dit is ʼn prestasie wat ongetwyfeld in die rugbygeskiedenisboeke opgeteken sal word,” het die voorspeler gesê.

Volgens Mchunu het die Suid-Afrikaanse spanne nou ʼn beter begrip van die toernooi se roemryke geskiedenis.

“Ons het beslis lesse in die eerste seisoen geleer. Ons weet nou hoe hard jy moet werk om te wen. As Suid-Afrikaners glo ons altyd dat ons enige wedstryd kan wen – dit is net hoe ons grootgemaak word.”

Die wedstryd begin Saterdag om 19:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Akker van der Merwe in aksie. (Foto: GB Jordaan)

  • Uitslae van Bulls se laaste drie wedstryde op Loftus Versfeld:

Bulls 63 – 21 Scarlets (nege drieë)

Bulls 53 – 27 Connacht (sewe drieë)

Bulls 44 – 10 Sharks (ses drieë)

  • Kampioenebeker-groepe:

Groep 1: Saracens, Bordeaux-Bègles, Bulls, Bristol Bears, Connacht en Lyon

Groep 2: Toulouse, Cardiff, Bath, Racing 92, Harlequins en Ulster

Groep 3: Munster, Bayonne, Glasgow Warriors, Exeter Chiefs, Toulon en Northampton Saints

Groep 4: La Rochelle, Stade Francais, Leicester Tigers, Stormers, Leinster en Sale Sharks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Boor hulle Bulle. Kry vir Bakkies terug uit aftrede om die laaste 10 minute op te kom en vir Owen Farrel bietjie te karnuffel, hy kan maar daarna afgestuur word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.