Clermont klink Stormers se doppie

Clermont vier hul oorwinning teen die Stormers. Foto: Thierry Zoccolan/AFP.

Ná ʼn baie goeie vertoning in die eerste 40 minute van hul Kampioenebeker-kragmeting teen Clermont op die Stade Marcel Michelin, het die Stormers in die tweede helfte sleg stoom verloor.

Die Kapenaars het ʼn rustydvoorsprong van 14 – 3 deur hul vingers laat glip om uiteindelik met 24 – 14 teen die Franse klub te verloor.

Alex Newsome het Clermont se herlewing met sy goeie afrondingswerk ingelui, terwyl Jules Plisson vir 17 van sy span se punte verantwoordelik was.

Die 31-jarige losskakel was in die kol met vyf stelskoppogings, terwyl hy ook ʼn skepskop oor die dwarslat gejaag het.

Deon Fourie het weliswaar ʼn barshou in die eerste helfte vir die Kapenaars gespeel, maar John Dobson (afrigter) sal teleurgesteld met die uitslag wees.

Net soos teen die Dragons verlede naweek in Gqeberha het die Stormers nou wéér hul voet van die versnelpedaal gehaal.

Maar ʼn buffer van 11 punte is beslis nie genoeg wanneer jou fut uit is nie – veral nie teen ʼn talentvolle span soos Claremont nie.

  • Puntemakers:

Clermont: Drieë: Alex Newsome en Alivereti Raka. Doelskop: Jules Plisson. Strafskoppe: Plisson (4). Skepskop: Plisson.

Stormers: Drie: Deon Fourie. Strafskoppe: Manie Libbok (2) en Clayton Blommetjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Jammer maar selfs kry spelers hier en daar rus kaans, kan jt nie rugby 11 maande ‘n jaar speel nie. Iewers moet iets breek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.