Curriebeker: Slae sonder bonuspunte vir Cheetahs en Pumas

(Foto: Pumas/Facebook)

Die agterdeur kan steeds vir die Cheetahs en Pumas oopstaan om vir die uitspeelrondtes van die Curriebekerreeks te kwalifiseer mits hulle nie kop verloor nie en beseringsvry bly in die laaste drie rondtes van die reeks.

Nadat die Westelike Provinsie die Pumas Vrydagmiddag in die Kaap met 22-14 geklop het en sonder ʼn bonuspunt teruggestuur het huis toe, het die Cheetahs, ook sonder ʼn bonuspunt, met 23-35 teen die Haaie op ʼn sopnat Kingspark in Durban vasgeval.

Die Haaie is nou saam met die Cheetahs (albei 38 punte) eerste op die puntelys, gevolg deur die Pumas (35) en Westelike Provinsie (31).

Die Haaie en WP is nou ook in die pylvak om vir uitspeelrondtes te kwalifiseer, terwyl die Leeus en Blou Bulle, asook Griekwas, se lot in hul eie hande is.

Die Cheetahs moet nog tuis teen Griekwas en weg teen die Pumas en Blou Bulle speel. Hulle sal een van die wedstryde moet wen en ook soveel moontlik bonuspunte moet insamel om aan hul posisie te klou en tuisveldvoordeel vir die uitspeelrondtes te verseker.

Die Pumas het ook ʼn groot taak, want hulle speel ook nog teen die Blou Bulle, Griekwas en Cheetahs.

Waar die Cheetahs en Pumas in die eerste helfte van die reeks die pas aangegee het met groot dissipline (en min beserings) het, begin dit nou lol.

Dalk is die spelers te oorywerig, dalk verloor hulle kop wanneer die horlosie in die rooi begin druk, maar hulle sal kalm moet bly en nie van hul wedstrydplan afwyk nie.

Ja, die sopnat veld en modderige toestande het nie die Cheetahs se wedstrydplan teen die Haaie gepas nie, maar wat dan van die Haaie, wat ook nie daaraan gewoond is om op ʼn nat veld en met glibberige bal te speel nie?

Boonop het die Cheetahs-flank Sibalalo Qoma en haker Louis van Westhuizen geel kaarte gekry, en teen ʼn ervare taktiese skopper soos die Haaie se Lionel Cronjé was dit vir moeilikheid soek.

Puntemakers:

Haaie 35: Drieë:  Aphelele Fassi, Alwayno Visagie, Tiaan Fourie, Henco Venter. Doelskoppe: Lionel Cronjé (3). Strafdoele: Cronjé (3).

Cheetahs 23:  Drieë: Sibabalo Qoma, Daniel Maartens. Doelskoppe: Ruan Pienaar, Siya Masuku. Strafdoele: Pienaar (3).

Puntestand:

 Wedstryde gespeelGewenGelykopVerloorPunteverskilLigapunte
Cheetahs117049638
Haaie118036538
Pumas1170415635
WP116053231
Leeus10406-3224
Griekwas10505-6023
Blou Bulle10406-5122
Griffons10109-2069

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.