Die beste Springbok-loskopstut: Was dit Os du Randt of Chris Koch?

Os du Randt. Argieffoto.

Daar loop ʼn sterk band van ooreenkomste tussen Chris Koch en Os du Randt, die twee beste loskopstutte wat ooit die Springboktrui gedra het.

Albei was net 21 jaar oud toe hulle hul toetsbuiging gemaak het; albei was plaasseuns wat op die platteland gebore en gesmee is en natuurlike spierkrag gehad het; albei het vyf toetsdrieë gedruk; albei kon hardloop, die bal uitgee en skrum.

Koch het sy buiging in 1949 teen die All Blacks gemaak en die Bokke 11 jaar lank met groot welslae verteenwoordig. Hy was die eerste stut wat buite die skrum soos ʼn agterspeler rondgehardloop het, waar die klem slegs op skrumwerk geval het. Later het ander soos Du Randt, Ollie le Roux en Beast Mtawarira gevolg, maar Koch het die baanbrekerswerk gedoen. Hy het die doelpale verskuif.

Volgens die rugby-historikus Paul Dobson was Koch net 16 jaar oud toe hy vir Moorreesburg se eerste span gespeel het. Die span se bynaam was die Tigers omdat Jungle Oats ʼn fabriek op die dorp gehad het.

Hy was net 18 jaar oud toe Dok Danie Craven hom op Nuweland  raakgesien het toe hy vir die Boland teen die Westelike Provinsie gespeel het.

Dis jammer dat daar so min beeldmateriaal van Koch is, want ʼn mens sou graag wou sien hoeveel talent en krag die boerseun van Moorreesburg werklik gehad het.

Du Randt het ook as 21-jarige sy buiging teen die Argentynse Poemas in 1994 gemaak. Hy was net 22 jaar oud toe die Bokke die Wêreldbekertoernooi gewen het toe hy die All Blacks se skrumderduiwel Olo Brown in toom gehou het. Hy was in sy laaste toets weer in ʼn WB-wenspan toe die Bokke vir Engeland in 2007 in Parys getroef het.

Hy is benewens Frans Steyn die enigste Bok wat met twee WB-wenmedaljes spog.

Du Randt wou nooit in die kollig wees nie, hy het in 1995 weinig onderhoude tydens die WB-toernooi gevoer en dit het baie gesmeek en oorreding van die spanbestuurder, Morné du Plessis, en die mediaskakelman, Edward Griffiths, gekos.

Só ook later in sy loopbaan, want dié legende wou net oor rugby praat, speel en nogmaals speel, wat hy skitterend gedoen het.

Chris Koch: 22 toetse tussen 1949 en 1960; vyf drieë.

Os du Randt: 80 toetse tussen 1994 en 2007; vyf drieë.

*  Wanneer daar oor loskopstutte met ander vaardighede gesels word, duik die legendariese polisieman Mof Myburgh se naam altyd op.

Hy het in 18 toetse tussen 1962 en 1970 gespeel en wanneer op sy knoppie gedruk is, was die spreekwoordelike rots altyd gereed, soos in 1970 toe hy reeds uitgetree het, maar binne ʼn week of twee “fiks” gemaak is om die All Blacks in die derde en vierde toetse voos te skrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Burgermeester ·

Ek het ongelukkig nooit vir oom Chris Koch sien speel nie, so ek gaan maar vir Os.

Louwrens ·

Ek ken van Os Du Randt en weet hy het sy hart uitgespeel met elke wedstryd. Ek stem vir Os. Vrystaat Boerseun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.