Dobson draai nie doekies om

Die Stormers-afrigter John Dobson. Foto: Twitter.

Die Stormers wil wedstryde wat op ʼn mespunt gebalanseer is, wen. Met ander woorde, hulle sal ʼn Sebastian Cancelliere vroegtydig in sy spore wil stuit voordat hy in die doodsnikke die wendrie vir sy span kan druk.

Die Glasgow Warriors het die afgelope Sondag die Kapenaars met 24 – 17 op die Scotstoun-stadion geklop nadat hul Argentynse vleuel in die 78ste minuut die pap dik aangemaak het.

John Dobson (Stormers-afrigter) het ná afloop van die wedstryd nie doekies omgedraai nie: Die Kapenaars sal moet toesien dat ʼn soortgelyke doodsnik-tragedie nie weer gebeur nie.

“As ons ʼn mededingende span in hierdie toernooi wil wees, sal ons hierdie tipe wedstryde moet wen. Ons kom gereeld baie naby [om te wen] maar ons sukkel om die knoop deur te hak,” het die Kaapse hoofafrigter gesê.

Hy was ook beïndruk met die Warriors se spel.

Sedert Franco Smith hom in Glasgow gevestig het, is die Skotte dorings op die aanval en hulle het nou ses wedstryde op ʼn streep gewen.

“Ons weet dat hulle blitsig op die aanval is en hulle het ons verdedigers laat bontstaan. Daarteenoor het ons as ʼn span nie ons geleenthede behoorlik aangegryp nie. Dit was ʼn swak vertoning teen goeie teenstanders.”

Die Stormers speel hierdie Sondag teen London Irish in ʼn Kampioenebeker-wedstryd.

  • Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer:
  1. Leinster: 56 punte ná 12 wedstryde
  2. Stormers: 45 ná 11 wedstryde
  3. Bulls: 39 punte ná 12 wedstryde
  4. Ulster: 38 punte ná 11 wedstryde
  5. Glasgow Warriors: 34 punte ná 11 wedstryde
  6. Benetton: 33 punte ná 12 wedstryde
  7. Munster: 32 punte ná 12 wedstryde
  8. Edinburgh: 30 punte ná 12 wedstryde
  9. Sharks: 29 punte ná 10 wedstryde
  10. Cardiff: 29 punte ná 12 wedstryde
  11. Connacht: 25 punte ná 12 wedstryde
  12. Lions: 24 punte ná 11 wedstryde
  13. Ospreys: 24 punte ná 12 wedstryde
  14. Dragons: 17 punte ná 12 wedstryde
  15. Scarlets: 17punte ná 12 wedstryde
  16. Zebre: 5 punte ná 12 wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Philip ·

Ag asb ! Dis ook nou nie asof die Stormers voor was ten tyde van die laaste drie nie ! Hulle was gelykop 17 elk , en hulle sou een punt meer verdien het met ‘n gelkop uitslag . Die telbord se vir my die beste span het gewen .

JohanR ·

Miskien moet Manie Libbok ook leer om te skop. ‘n Paar skope oor en hulle sou miskien gewen het.

Hennie Biebouw ·

Dit was Huw Jones wat die Stormers ore aangesit het. Hul swakplek lê in die middelveld en op heelagter. Aanval is maklik, maar jy moet jou posisionele spel op verdediging eers in plek kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.