Donker nag, maar Bulle kon darem glimlag

David Kriel druk een van sy drieë. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Braai in die Jakarandastad is altyd lekker totdat een van jou meer verdagte familielede ʼn vreemde vraag vra terwyl hy ingedagte ʼn skilpadjie op die vuur omdop.

As die Bulle dan vroeër teen die Griffons verloor het, maar ʼn rukkie later met die “magtige” Leinster op Loftus Versfeld kon afreken; beteken dit dan dat die Welkom-spelers die groter bedreiging vir Pretoria se rugbytrots is?

Maar terwyl jy nog aan maniere dink om die vermetele vraagvraer in eie munt terug te betaal, het die Bulle darem gisteraand die praatwerk namens jou gedoen.

Al het elektrisiteitsprobleme amok op Loftus Versfeld gemaak.

Stedman Gans was een van die Pretorianers se gevaarmanne. (Foto: GB Jordaan)

Die “kragmeting” (lekker woordspeling as ʼn mens na die konteks kyk) het om 17:00 begin, maar skeidsregter Marius van der Westhuizen moes die spelers in die donkerte ʼn rukkie later van die veld begelei.

Tegnici het gespook om die kragtoevoer te herstel – die stadion se kragopwekkers het intussen ook oorverhit – en spel is weer om 20:45 hervat.

Die tuisspan kon uiteindelik tien drieë druk om die wedstryd met 64 – 33 te beklink en na die vierde plek op die amptelike punteleer te skuif.

David Kriel het ʼn driekuns van drieë behaal, terwyl Marcell Coetzee twee keer die Griffons se verdediging laat les opsê het.

Tog moes die Pretorianers ook op die verdediging bontstaan met spelers soos Duan Pretorius en Marquit September wat met hul kraglopies beïndruk het.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: David Kriel (3), Marcell Coetzee (2), Stedman Gans, Nizaam Carr, Cornal Hendricks, Embrose Papier en Mornay Smith. Doelskoppe: Johan Goosen (7).

Griffons: Strafdrie, Duan Pretorius (2) en Dandré Delport. Doelskop: Jaywinn Juries. Strafskoppe: Juries (3).

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Haaie: 43 punte ná 12 wedstryde
  2. Cheetahs: 41 punte ná 12 wedstryde
  3. Pumas: 36 punte ná 12 wedstryde
  4. Blou Bulle: 36 punte ná 13 wedstryde
  5. Griekwas: 35 punte ná 13 wedstryde
  6. Westelike Provinsie: 32 punte ná 13 wedstryde
  7. Leeus: 31 punte ná 12 wedstryde
  8. Griffons: 10 punte ná 13 wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Enige span kan die appelkar omgooi en verrassings kan nog gebeur in die kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.