Doring Duane groet Bokke

Duane Vermeulen het sy Springbok-loopbaan op ’n hoë noot afgesluit: Met ’n Wêreldbeker-wennersmedalje. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Ná 76 toetse en twee Wêreldbeker-wennersmedaljes is die 37-jarige Duane Vermeulen by die einde van sy Springbok-pad.

“Duane sal vir altyd as een van die harde manne van Suid-Afrikaanse rugby beskou word. Hy was nie net ʼn formidabele krag vir die Springbokke nie, maar ook ʼn veelsydige speler wat altyd op sy stukke was,” het Mark Alexander, president van SA Rugby (Saru), in sy huldeblyk gesê.

Hoogtepunte is natuurlik volop in die oudleerder van Hoërskool Nelspruit se loopbaan.

So saam met sy Wêreldbeker-sukses – wie sal sy speler van die wedstryd-vertoning in die 2019-eindstryd teen Engeland in Japan vergeet – was hy ook twee keer in sy loopbaan (2014 en 2020) as die beste speler in Suid-Afrika aangewys.

Op provinsiale vlak is Vermeulen en wyle Theuns Stofberg die enigste spelers wat die Curriebeker-silwerware saam met drie verskillende unies omhoog gehou het.

Duane Vermeulen in die kleure van die Bulle. (Foto: GB Jordaan)

Die rateltaai losvoorspeler het met die provinsiale louere saam met die Cheetahs (2007), Westelike Provinsie (2012) en Blou Bulle (2020) weggestap.

In vanjaar se Wêreldbeker-toernooi was hy in al drie van Suid-Afrika se uitspeelwedstryde in die Springbokke se opdrafspan.

Nie sleg vir ʼn speler wat vóór die toernooi al aan moontlike uittrede gedink het nie.

“Dalk moes ek my stewels in 2019 weggebêre het, maar die afrigters het my oortuig om aan te hou speel,” het Vermeulen destyds gesê.

ʼn Ervare speler is egter by ʼn Wêreldbeker-toernooi sy gewig in goud werd – veral in ʼn drukkokersituasie waar jou span belangrike wedstryde met net een punt wen.

Volgens Alexander het Vermeulen nooit veel van die kollig gehou nie, maar goeiste: Hy het beslis geweet hoe om met sy uithalervertonings die hoofopskrifte te haal.

“Duane is een van daardie spelers wat nooit met ʼn middelmatige vertoning tevrede was nie en hy het ongetwyfeld sy beste vir sy span gegee. Hy was ʼn leier wat Suid-Afrika in vier toetse aangevoer het, terwyl hy ook die Springbok-agtsteman met die meeste toetse [68] nóg agter sy naam is.

“Hy is ʼn ware legende van die spel.”

  • Vermeulen se statistieke:

Toetse: 76

Drieë: 3

Buiging: 8 September 2012 teen Australië in Perth

Laaste toets: 28 Oktober 2023 teen Nieu-Seeland in Parys.

pieter steph du toit siya kolisi duane vermeulen

Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi en Duane Vermeulen. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George ·

Fantastiese speler, maar beslis klaar met internationale rugby. 37 is nie jonk in rugby taal nie.

vuurvliegie ·

Thor was verseker die nie-amptelike Bok kaptein wat hy was elke keer 80 min op die veld en het die span aanmekaargehou en gemotiveer. Almal weet dit.

kragaap ·

Fantastiese speler en leier. Was die eintlike kaptein in 2019. Kolisi was definitief die kaptein in 2023. Maar bokke sal vir Thor mis….

vuurvliegie ·

Lag ek nou. Kolisi was seker kaptein met Thor se toestemming.

SjN ·

Dankie vir jou bydrae Duane, lekker om op n hoogtepunt af te sluit, sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.