Duane trots op sy troepe

Duane Vermeulen het ongetwyfeld van voor gelei. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke het slae op Loftus Versfeld uitgedeel toe hulle die Wallabies met 43 – 12 in ʼn eensydige Rugbykampioenskap-wedstryd getroef het.

Die Suid-Afrikaners was op hul aanvallende beste en die vlieënde Kurt-Lee Arendse laat teenstanders gereeld na lug gryp.

Die Bulls-agterspeler het ʼn driekuns van drieë gedruk en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Duane Vermeulen, wat die span in Siya Kolisi se afwesigheid op die veld aangevoer het, het in ʼn onderhoud met SuperSport gesê dat hy trots is op die span.

“Dit was ʼn fantastiese vertoning. Ons het ons planne in aanloop tot die wedstryd gehad, maar ʼn mens weet nooit wat om van Australië te verwag nie.”

Vermeulen – wat vier jaar gelede as die speler van die wedstryd in die Wêreldbeker-eindstryd in Japan aangewys is – het van voor gelei en die Aussies moes gereeld bontstaan om sy kraglopies te stuit.

“Ons weet dat Eddie Jones ʼn uitgeslape kalant is, maar ek glo ons het goed aangepas en ons sterk punte in berekening gebring. ʼn Stewige vertoning in die vaste fasette en rotsvaste verdediging is in ons DNS en dit is hoe ons wedstryde benader. Dit was steeds nie ons heel beste vertoning nie, maar ek is in my noppies met die uitslag.”

Kurt-Lee Arendse op pad na een van sy drieë. (Foto: GB Jordaan)

Arendse is ongetwyfeld ʼn driedrukmasjien.

Hy het reeds tien drieë in sy agt internasionale toetse gedruk en hoewel hy net 76 kg weeg, is sy spel ʼn klinkklare bewys dat dinamiet ongetwyfeld in klein pakkies verpak word.

“Dit was spesiaal om op Loftus te speel en baie lekker om te wen. Ons het geweet dat die eerste 20 minute van die wedstryd ʼn taai storie sou wees, maar ons voorspelers het beslis vir voorvoetmomentum gesorg,” het Arendse gesê.

Die Springbokke speel volgende Saterdag teen Nieu-Seeland weg van die huis. Die kragmeting begin om 09:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Spelers wat nou ook na Nieu-Seeland reis:

Voorspelers: Thomas du Toit, Pieter-Steph du Toit, Deon Fourie, Steven Kitshoff, Jean Kleyn, Vincent Koch, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Trevor Nyakane, RG Snyman, Marco van Staden en Duane Vermeulen.

Agterspelers: Lukhanyo Am, Kurt-Lee Arendse, André Esterhuizen, Herschel Jantjies, Willie le Roux, Manie Libbok, Cobus Reinhach, Damian Willemse en Grant Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Die Aussies was power, ek was verbaas hoe swak hulle was. Ek sal nie veel waarde aan hierdie Bok-oorwinning heg nie, die Aussies was net te swak.

kragaap ·

Die bok voorspelers, met die kaptein heel voor soos dit hoort, het die Aussies stukkend geskrum, gedryf en geduik. Dit was nie die Aussies wat so swak was nie dis die bokke wat so hard was wat hul gesink het. En die bok kaptein was uitstekend. Die bokke kan baie waarde heg aan die vertoning, hul het diepte en ervaring bewys asook die feit dat die bokke se “nie beste span” soos jy hul beskryf het kan saamgesels met enige ander toets span.

piet ·

Soos Wallis? Ek dink jy droom. Hierdie Aussie-span het heeltmal lusteloos voorgekom en baie swak gespeel. Vermeulen en PSduToit het vir ‘n verandering goed gespeel teen swak opposisie. Selfs Manie Libbok was ‘n ster agterlangs.

kragaap ·

Wie praat van Wallis ? PSDT en Duane is altyd goed maak nie saak die opposisie. Manie was ‘n ster want sy voorspelers het die platform verskaf. Het jy enigsins die wedstryd gekyk ? Wonder wie droom.

Miena ·

Dit was baie lekker om weer bietjie op Loftus – Heilige Grond – te gaan sit en die wedstryd te geniet. Ek het regtig gedink binne die eerste 25 min dat toe die enigste punte op die bord 5 vir Aus was; dat SA gaan die slag verloor. Ek dink ons kon beter balbeheer toegepas het dalk met tye maar nietemin – n wen is n wen. My bloed by nogsteeds Blou hehehe. Dit was n groot verrassing to die vliegtuie n 2e keer kom draai dat alles op die stadium brulllll en drilllll. Mense – wat n sig om te kon sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.