Duhan in Skotte se opdrafspan

Duhan van der Merwe is gereeld op die voovoet. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Duhan van der Merwe sal die no. 11-trui vir Skotland in hul Sesnasies-openingswedstryd teen Wallis op die Principality-stadion in Cardiff dra.

Van der Merwe wat in Suid-Afrika gebore is en sy skoolloopbaan aan Hoërskool Outeniqua voltooi het, is ongetwyfeld een van Skotland se groot sterre.

Die sterk vleuel is ʼn rugbyfrats: Hy kan van enige plek op die rugbyveld ʼn aanval loods, terwyl hy ook gereeld met sy vaart beïndruk.

Die 28-jarige speler het reeds in vorige toernooie sy stempel op die Sesnasies-aksie afgedruk.

Hy het in 2021 onder meer deur 31 duikslae gebars, terwyl hy verlede jaar ʼn wonderdrie op Twickenham teen Engeland gedruk het.

Tog was daar gʼn deurkomkans teen Suid-Afrika nie toe die twee lande teen mekaar in ʼn Wêreldbeker-wedstryd gespeel het.

Kyle Steyn en Pierre Schoeman is die ander Suid-Afrikaans gebore spelers in die Skotse opdrafspan teen die Rooi Drake, terwyl Huw Jones ʼn gereelde gesig in die Stormers-span was.

Vir Wallis sal Aaron Wainwright, Tommy Reffell en James Botham die lostrio vir die toets vorm.

Die 25-jarige Botham is die kleinseun van die legendariese Engeland-krieketspeler Ian Botham.

Die wedstryd begin Saterdag om 18:45 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Wallis: Cameron Winnett (heelagter), Josh Adams (regtervleuel), Owen Watkin (buitesenter), Nick Tompkins (binnesenter), Rio Dyer (linkervleuel), Sam Costelow (losskakel), Gareth Davies (skrumskakel), Aaron Wainwright (agtsteman), Tommy Reffell (flank), James Botham (flank), Adam Beard (slot), Dafydd Jenkins (slot en kaptein), Leon Brown (stut), Ryan Elias (haker) en Corey Domachowski (stut). Plaasvervangers: Elliot Dee, Kemsley Mathias, Keiron Assiratti, Teddy Williams, Alex Mann, Tomos Williams, Ioan Lloyd en Mason Grady.

Skotland: Kyle Rowe (heelagter), Kyle Steyn (regtervleuel), Huw Jones (buitesenter), Sione Tuipulotu (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Finn Russell (losskakel en kaptein), Ben White (skrumskakel), Matt Fagerson (agtsteman), Jamie Ritchie (flank), Luke Crosbie (flank), Scott Cummings (slot), Richie Gray (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Pierre Schoeman (stut). Plaasvervangers: Ewan Ashman, Alec Hepburn, Elliot Millar-Mills, Sam Skinner, Jack Dempsey, George Horne, Ben Healy en Cameron Redpath.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.