Dyantyi word amptelik ʼn Haai

Aphiwe Dyantyi (Foto GB Jordaan)

Die Sharks het ʼn rugbyreddingsboei na Aphiwe Dyantyi gegooi. Die KwaZulu-Natalse rugbyunie het bevestig dat die voormalige Springbok-vleuel amptelik deel van sy opset is.

Dyantyi se skorsing kom op 12 Augustus tot ʼn einde en hy sal dus beskikbaar wees vir die komende Verenigde Rugbykampioenskap.

Volgens die 28-jarige blits is hy opgewonde om weer op die speelveld te wees en hy wil sy stempel in Durban afdruk.

“Ek belowe om my heel beste te gee wanneer ek die trui oor my kop trek. Ek is nou al vir ʼn geruime tyd in Durban en ek het gesien wat die Haaie vir baie mense beteken. Ek wil deur wat ek óp en ván die veld doen tot daardie gevoel van trots bydra,” het Dyantyi gesê.

Hy het in 2018 sy internasionale buiging teen Engeland op Ellispark gemaak en die spoedvraat het terstond die prestasie met ʼn drie gevier.

Hy het uiteindelik ses drieë in sy 13 toetse gedruk en sy loopbaan het beslis ʼn opwaartse kurwe gevolg toe hy as die internasionale nuweling van die jaar aangewys is.

ʼn Positiewe toets vir verbode middels in 2019 het egter tot ʼn skorsing van vier jaar gelei.

Aphiwe Dyantyi – sy vreugde na sy eerste toetsdrie (Foto GB Jordaan)

Dyantyi het uit die staanspoor aangevoer dat hy onskuldig is wat die gebruik van anaboliese steroïede betref. Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.

“Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nie,” het hy in ʼn verklaring gesê. Die uitslag van sy B-urienmonster was egter óók positief.

Die toetse is by ʼn geakkrediteerde World Anti-Doping Agency- (Wada-)laboratorium by die Universiteit van die Vrystaat gedoen en daar is bevind dat die Bokblits positief vir drie verbode middels getoets het.

Dyantyi se Springbok-drieë:

9 Junie 2018: Een drie in die Springbokke se oorwinning van 42 – 39 teen Engeland op Ellispark.

18 Augustus 2018: Twee drieë in die Springbokke se oorwinning van 34 – 21 teen Argentinië op Kingspark.

15 September 2018: Twee drieë teen die All Blacks in Suid-Afrika se oorwinning van 36 – 34 in Wellington.

29 September 2018: Een drie teen die Wallabies in Suid-Afrika se oorwining van 23 – 12 in Gqeberha.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Cheat. Should never make any team. Not until he can admit to his misdoings.

JohanR ·

Vier jaar van sy beste rugby jare verloor omdat hy verbode middels geneem het. Help verbode middels jou nou eintlik?

Jack Russ1 ·

Was Pedrie geskors? As ek reg onthou was hy nooit geskors nie, kon ook niks optel wat sê dat hy geskors was nie.

Mense maak foute en het het sy straf uitgedien.

SjN ·

Hy was skuldig bevind en het sy straf uit gedien, gee hom n regverdige kans om homself te bewys en kies hom dan op meriete indien hy dit verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.