Emosionele Kitshoff trots op sy span

Deon Fourie en Steven Kitshoff na afloop van die eindstrydaksie teen Munster. (Foto: Hansie Linde)

Die nederlaag teen Munster maak sommer baie seer, maar Steven Kitshoff is steeds trots op sy span se vertoning hierdie seisoen.

“Toe die eindfluitjie geblaas het, het dit vir my gevoel of dinge nie op só ʼn manier moes uitdraai nie. Ons was in beheer van die wedstryd in die tweede helfte en Munster moes spartel om ons uit te hou,” het die Stormers-kaptein gesê.

Dit was die 31-jarige stut se laaste wedstryd in ʼn Stormers-trui voordat hy in Ulster se skrum gaan sak.

“Ek het gesukkel om die trane weg te hou, maar ek is ongelooflik trots op die spelers en op alles wat hulle hierdie seisoen bereik het. Vanaand se uitslag is baie teleurstellend, maar die manne kan nogtans hul koppe omhoog hou.”

Die Stormers het vir ʼn groot gedeelte van die tweede helfte ʼn voorsprong van 14 – 12 geniet, maar John Hodnett se drie in die 74ste minuut het die Munster-vreugdevure aangesteek.

Volgens John Dobson is dit moeilik om die teleurstelling te verwerk.

John Dobson. (Foto: Hansie Linde)

“Ons wou bitter graag hierdie trofee wen, maar ons sal moet probeer om gedissiplineerd te bly en na die groter prentjie te kyk. Ek het vir die spelers gesê om hul trane vir later te hou want ons het iets baie spesiaal hierdie seisoen vermag,” het die Stormers-afrigter gesê.

Op sy beurt het Munster se Graham Rowntree erken dat die oorwinning die beste prestasie nóg van sy afrigtersloopbaan is.

Die 52-jarige oudspeler, wat die Leicester Tigers in amper 400 wedstryde verteenwoordig het én die Sesnasies-toernooi saam met Engeland beklink het, is veral trots op Munster se veerkragtigheid.

“Dit sal seker een of ander tyd behoorlik insink, afhangende van hoeveel glase pinotage ek in die volgende paar uur drink,” het Rowntree geskerts.

“Maar hierdie is ongetwyfeld die beste dag ooit van my afrigtersloopbaan.”

Munster het dinge op ʼn merkwaardige wyse omgekeer nadat hulle vyf van hul eerste sewe wedstryde van die seisoen verloor het en later sleg die onderspit gedelf het teen die Sharks in Durban.

Die span het egter drie taai uitspeelwedstryde op ʼn streep weg van die huis gewen om die silwerware omhoog te hou.

“Ek dink die span word deur sy dapperheid gekenmerk – veral wanneer dinge moeiliker teen die einde van ʼn naelbytstryd word. Die spelers is deur vuur gelouter en hulle weet hoe om belangrike wedstryde te wen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Stormers beste SA span. Ons ander spannetjies sou met skandelike tellings verloor het. Ek hoop werklik die ander SA spanne kan begin beter vaar in die kompetisie. Net die Stormers kon die halfeindstryd haal.

Manie ·

Die Stormers moes eerder die wedstryd op Stellenbosch gespeel het waar die veld hulle sou pas en totaal onbekend vir ander spanne is.

kragaap ·

Wat ‘n springbok ondersteuner bekommerd maak is dat Munster klop ons beste span in die kompetisie met 8 Springbokke, met ‘n tipiese springbok wedstrydplan, in Kaapstad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.