‘Ervaring, fisieke spel kan deurslag gee’ – Nienaber

Malcolm Marx speel Saterdag in sy 50ste toets vir Suid-Afrika wanneer die Springbokke teen die All Blacks in Nelspruit speel. Foto: Odd Andersen/AFP.

Reg, as die reeks teen Wallis die voorgereg was, dan is die Rugbykampioenskap-wedstryde teen die All Blacks ongetwyfeld die hoofgereg.

Die Springbokke speel Saterdag in die eerste toets teen die beleërde Kiwi’s in Nelspruit. En nadat ’n mens in die Rooidraakreeks met Bokke se sogenaamde “A en B-spanne” kennis gemaak het, het Jacques Nienaber (afrigter) ongetwyfeld ’n A-span gekies.

Malcolm Marx sal in sy 50ste toets vir Suid-Afrika die no. 2-trui dra, terwyl Faf de Klerk ook weer in die opdrafspan is nadat hy vir ’n ruk op die plaasvervangersbank gesit het. Dan kry die Bulls se vlugvoetige Kurt-Lee Arendse ’n geleentheid in die plek van die beseerde Cheslin Kolbe.

“Dit is ’n groot geleentheid vir Malcolm om in sy 50ste toets te speel en dit sal goed wees as hy in die beginvyftiental is. Terselfdertyd glo ons ook dat Faf se ervaring en manier van speel deurslaggewend teen die All Blacks kan wees,” het Nienaber gesê.

Oudergewoonte is daar weer ses voorspelers en twee agterspelers op die plaasvervangersbank met Kwagga Smith wat vir die nodige veelsydigheid sorg.

Volgens Nienaber is die Nieu-Seelanders steeds gedugte teenstanders.

Kurt-Lee Arendse kry sy kans in Cheslin Kolbe se afwesigheid. Foto: GB Jordaan.

“Die All Blacks is in Nelspruit om hul reeksnederlaag teen Ierland te wreek en hulle sal wil bewys dat hulle steeds een van wêreldrugby se sterkste spanne is. Daarom glo ons dat ervaring en fisieke spel van groot waarde in hierdie toets sal wees.”

’n Veglustige Ian Foster – All Blacks-breier – het reeds in ’n vorige onderhoud gesê dat die Kiwi’s alles in die stryd sal werp om die toernooi te wen, en Nienaber voorspel juis ’n taai stryd.

“Daar heers ’n unieke wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks en al twee spanne moet altyd op hul beste wees wanneer hulle teen mekaar speel.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Salmaan Moerat, Franco Mostert, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse en Willie le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ABs se voorspelers gaan klippe kou.

Niklaas ·

Hoop jy is reg , maar AS s is nie “softies ” nie , hoor.

SjN ·

Hoop net Faf skop nie weer elke bal weg nie, minder voorspelers in agterlyn en laat die bal deur die lyn afgaan tot by die vleuels. Nienaber se stereotipe plan is so voorspelbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.