Farr-Jones waarsku Aussies teen kniebuigery

Nick Farr-Jones. Foto: Twitter.

Die voormalige Aussie-kaptein Nick Farr-Jones het die Wallabies gewaarsku om nie die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging vóór die naweek se Bledisloe-kragmeting teen die All Blacks te buig nie.

Die Australiërs speel Saterdag in die derde toetswedstryd teen die All Blacks in Sydney en die span se Dane Haylett-Petty het volgens berigte gesê dat dit goed sal wees as die Aussies ook hul steun wys.

Maar, Farr-Jones wat aan die stuur van sake was toe Australië in 1991 vir die eerste keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, het egter die span daarteen gewaarsku om die knie te buig.

“Die Wallabies het pas weer hul ondersteuners se respek begin verdien te danke aan hul goeie vertonings teen die All Blacks in Wellington en Auckland en om só iets te doen is net ’n te groot risiko. Die span loop die risiko om sommige ondersteuners te vervreem,” het Farr-Jones in ’n radio-onderhoud gesê.

“Van die ondersteuners gaan pleinweg net hul TV’s afsit. Hulle wil nie politiek in nasionale sport sien nie.”

Sportspanne reg oor die wêreld – van die Amerikaanse basketbalspanne tot die Wes-Indiese krieketspan – het al die knie ter ondersteuning van Black Lives Matter gebuig. Hier op tuisbodem het plaaslike krieketspelers en -afrigters ook die knie tydens die 3TeamCricket-inisiatief op SuperSport-park gebuig.

Maroela Media het vroeër berig dat die gebaar vir meer verdeeldheid onder Suid-Afrikaners gesorg het.

Indien die Wallabies wel die knie sou buig, sal hulle die eerste Australiese span wees om dit te doen; Aaron Finch se krieketspan het in September staande gebly teen Engeland.

“Ek dink as ons ’n steekproef hier in Australië doen, sal jy bevind dat 99% van die mense sal  saamstem dat alle lewens saak maak. Kom ons meng eerder nie sport met politiek nie,” het Farr-Jones afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Farr- Jones was nog altyd ‘n wyse man wat orals respek afdwing..

Frank ·

Daarsy man, is dit nou vir ‘n sportman so moeilik om te staan vir wat hy in sy hart glo!! Hoop Faf en sy travante (krieket WAS my eerste sport liefde) vang tips.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.