Farrell aangewys as breier van Britse en Ierse Leeus vir toer na Aus

Andy Farrell is aangewys as breier van die Britse en Ierse Leeus vir hul toer na Australië in 2025. (Foto: Julien de Rosa / AFP)

Andy Farrell is Donderdag aangewys as breier van die Britse en Ierse Leeus vir hul toer na Australië in 2025.

Dié Engelsman wat tans die hoofafrigter van Ierland se rugbyspan is, sal van Desember af slegs met die Leeus werk totdat die toer afgehandel is. Dit beteken dat hy die Iere se sesnasies-veldtog in 2025 sal misloop.

Die aankondiging kom kort nadat Farrell se kontrak as Ierland se hoofafrigter tot ná die volgende Wêreldbeker in 2027 verleng is.

Onder Farrell se leierskap het Ierland verlede jaar ʼn sesnasies- Grand Slam gewen, die Triple Crown in 2022 én ʼn eerste reekssege in Nieu-Seeland.

Voor die 2023-Wêreldbeker, waar Suid-Afrika koning gekraai het, was Ierland ook die nommer een rugbyspan om mee af te reken.

Die Iere het die Wêreldbekerstryd egter verloor toe die All Blacks hulle in die kwarteindstryd geklop het.

Farrell neem nou die leisels by Warren Gatland oor, wat die Leeus sedert 2013 in drie Australiese toere gelei het.

Farrell was ʼn lid van Gatland se afrigtingspan in die 2013-reeks in Australië toe die Leeus as wenners gekroon is, asook in 2017.

“Dis ʼn groot eer en voorreg om as die hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus aangewys te word,” het Farrell gesê.

“Met dié dat ek by die toere in 2013 en 2017 betrokke was, weet ek hoe spesiaal die Leeus-toere is, so ek is verheug oor die geleentheid om die span in 2025 te lei.

“Daar is ʼn magdom talent in Brittanje en Ierland, en ek sien daarna uit om ʼn span te bou wat die einddoel van sukses in Australië kan behaal.”

Die Leeus bestaan uit die voorste spelers van Engeland, Skotland, Ierland en Wallis.

Sedert 1989 toer die Leeus tradisioneel elke vier jaar om die beurt na Australië, Nieu-Seeland of Suid-Afrika.

‘Farrell een van bestes’

Leuan Evans, voorsitter van die Leeus, wat in 1987 vir die Leeus tydens hul toer na Australië uitgedraf het, het Farrell se aanstelling verwelkom.

“Andy Farrell se aanstelling beklemtoon ’n fantastiese hoofstuk vir die Leeus terwyl ons vir die 2025 toer na Australië voorberei.

“Ons weet die stryd wat in Australië op ons wag sal nie maklik wees nie, so om iemand van sy [Farrell se] statuur te hê plaas ons in ʼn goeie posisie om weer sukses te behaal,” het die voormalige vleuel gesê.

Hy het Farrell se prestasie met Ierland oor die afgelope paar jaar geloof en sê sy afrigtingservaring maak van hom ʼn besondere kandidaat vir die pos waarin hy nou aangestel is.

Met Australië se rugby wat tans op ʼn laagtepunt is, sal daar groot verwagtinge van Farrell gekoester word.

Eddie Jones het as die Wallabies se afrigter bedank ná net twee oorwinnings uit nege toetse in die 2023-Wêreldbeker.

Farrell, pa van die Rose se kaptein, Owen Farrell, kan moontlik teen sy voormalige baas, Joe Schmidt wat die Australiërs lei, te staan kom.

Farrell was Schmidt se verdedigingsafrigter by die Iere voordat hy die leisels in 2019 oorgeneem het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.