Fiksheid was nog altyd ’n rugbyspeler se grootste vriend

Foto ter illustrasie. (AP Photo/Francisco Seco).

Fiksheid was nog altyd een van die pilare waarop rugby, net soos enige ander sportsoort, gebou is.

As jy nie fiks is nie, sal jy uitsak, nie die pas kan volhou nie en jou teenstander sal jou opfoeter omdat hy fikser as jy is.

Jare gelede, nog voor gimnasiums, oefenfietse, trapmeule, fiksheiddeskundiges, eetplanne en aanvullers, moes jy maar op jou eie aankarring voordat jy op die oefenveld kon aanmeld.

Jy het dit gehaat, in die laaste paar dae van jou seevakansie teen die sandduine uit, van lengtes en lengtes oor die rugbyveld van loop, draf en hardloop, bulte op- en uithardloop, honderde opsitte en opdrukke, van maagoefeninge doen, mekaar te abba, met jou tuisgemaakte gewigte in die garage te oefen, om hout te kap: net om aan die einde van ʼn oefening nog ʼn paar keer om die veld gejaag te word.

Dit het my laat terugdink aan Dave Frederickson, ʼn begaafde haker wat in 1974 uit die Springbokspan gegooi is omdat hy na ʼn martel-skrumoefening nie nog een of twee keer om die veld wou hardloop nie.

Frederickson moes ses jaar wag voordat hy in 1980 in nog twee toetse teen die Suid-Amerikaners kon speel.

En ook aan 1995 se Wêreldbeker-wenspan, wat later so fiks was dat hulle vir die afrigter Kitch Christie kon lag as hy hulle verder wou jaag.

Maar sy woorde van daardie laaste tien minute in bykomende speeltyd in ʼn WB-eindstryd, het waar geword.

Jy was poegaai, jou longe het gebrand, jy het geswets en geskel, maar die volgende dag was jy terug vir meer.

Die afrigter, wat donkiejare laas gespeel en ʼn sweetpak gedra het wat ʼn nommer of twee te klein was, het beweer hy weet waarvan hy praat en jou aanhou jaag.

Hier in die tweede/derde week van Januarie was daar altyd ʼn artikel van Jan Ellis in die koerant, hoe hy in die destydse Suidwes-Afrika op sy eie geoefen het, klippe gedra het, in die warm son fiks geraak het.

As jy in die weermag of polisie was, was jy gelukkig, want jou basiese diensopleiding het daarvoor gesorg dat alle vetjies afgeskud word terwyl die sersant jou name genoem het waarvan jy nog nooit vantevore gehoor het nie.

Dan die eerste wedstryd: Weer het jou longe gebrand en jy het een of twee foute begaan.

“Sien,” het die afrigter gesê, “ek het mos gesê dat ons [?] nie fiks genoeg is nie.”

Oor ʼn paar weke gaan dinge hopelik na normaal terugkeer as die Covid-19-pandemie afgeskud gaan word.

Hoe fiks gaan die hedendaagse spelers wees, hoe gou sal hulle hul fiksheid kan herwin?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Ek het in 1990 net voor die rugbyseisoen begin net aerobics doen ,dit was die fikste wat ek ooit was.

MakersMark ·

Seker die ’95, ’07 en ’19 wereldbeker wenner bok spanne het dit ook gedoen. Watse nonsens is teerpale, klippe en “buddy pt”? Sou graag Os, Bakkies en John Smit in ‘n aerobics klas wou sien……met Jake White wat die klas lei……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.