Force en W-Australiese regering veg nou kaalvuis vir Superstatus

In Suid-Afrika is daar steeds effense ongelukkigheid oor die Cheetahs en die Kings wat nie meer in die Superreeks sal speel nie, wat darem oorheers word deur die afwagting van die twee franchise’e se insluiting in die Pro14.

In Australië, egter, word nou kaalvuis ingeklim nadat ʼn arbitrasieverhoor verlede week ten gunste van die Melbourne Rebels beslis het om in die kompetisie te bly met die Western Force wat in die slag sal bly vir die 2019-Superreeks.

Die Wes-Australiese rugbyliggaam, RugbyWA, wie se appèl teen hulle uitsetting Woensdag in die Hooggeregshof in Nieu-Suid-Wallis aangehoor word, dreig dat hulle die Australiese Rugby-unie (ARU) finansieel op hulle knieë sal dwing indien die appèl nie slaag nie.

Die miljardêr-mynmagnaat Andrew Forrest het dit ook onomwonde aan die ARU gestel: “Ek wil dit baie duidelik stel: as julle die Western Force uit die kompetisie sny, moet julle my eers onderkry, en dán ook al ons spelers en dán al die ondersteuners.”

♦  ʼn Perth-gebaseerde direkteur van die ARU, Geoff Stooke, het uit die ARU bedank ná die ARU aangekondig het dat die Force gesny sal word. Hy het ondersteuners ingelig dat die Wes-Australiese regering tot die stryd sal toetree en miljoene dollars van die ARU sal eis indien die Force die appèl verloor.

Die eis van die WA regering sal die ARU bankrot laat as dit suksesvol is.

Die Wes-Australiese regering het A$95 miljoen (feitlik een miljard rand) ingeploeg in die nib-stadion sodat dit ook deur die Force gebruik kan word, en het ook sowat A$17 miljoen (sowat R175 miljoen) bestee aan RugbyWA se hoofkwartier onder die indruk dat hulle span se plek in die Superreeks gewaarborg is.

♦  Stooke sê die staatsregering het daardie belegging gemaak met die verwagting dat die Force permanent deel van Wes-Australië se sportlandskap sal wees.

“Of ons nou die appèl wen of verloor, ons sal sterker daaruit kom,” sê Forrest.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.