Foster sweet ná All Blacks kleitrap

Ian Foster. Foto: Michael Bradley/AFP.

Die All Blacks het vanjaar 12 van hul 15 rugbywedstryde gewen, maar dit is daardie drie nederlae (teen die Springbokke, Ierland en Frankryk) wat hul ondersteuners warm onder die kraag het.

Dit is die Nieu-Seelanders se swakste seisoen in 12 jaar en die beleërde Ian Foster sweet deesdae onder sy swart baadjie.

O ja, dit is ook die eerste keer sedert die 1993‑’94-seisoen dat hulle twee agtereenvolgende nederlae teen Europese spanne ly.

Nodeloos om te sê is die Kiwi-rugbyliefhebbers glad nie tevrede met die stand van sake nie en daar is sommiges wat Foster se kop eis.

“Dit is teleurstellend om eintlik vooraf te weet wat ons ondersteuners se reaksie sal wees wanneer ons verloor. Ek dink ons het in die twee jongste wedstryde elke keer gesukkel om in die eerste helfte aan die gang te kom,” het Foster in ’n onderhoud met The Breakdown gesê.

Die Hane was die afgelope naweek reeds rustyd met 24 – 6 voor en hulle het uiteindelik met 40 – 25 gewen; die All Blacks se tweede grootste nederlaag ooit teen ’n span van die Noordelike Halfrond.

“Ons het toegelaat dat die Franse baie momentum teen ons opbou. Dit was eintlik ongelooflik om te aanskou – die skare het kliphard begin saampraat en dit was moeilik om hulle in toom te hou.”

Volgens Foster het hy begrip vir die ondersteuners se frustrasie, maar dit is terselfdertyd vir hom moeilik om die omstandighede te beskryf waarin die All Blacks hul bevind het.

“Dit moenie lyk of ek na verskonings soek nie, maar in baie opsigte was dit ’n ongelooflik moeilike jaar. Ons was vir 12/13 weke op die pad, in hotelkamers en in kwarantyn, terwyl ons twee keer vyf agtereenvolgende toetse gespeel het. Teen die einde het ons net stoom verloor.”

Terwyl Europese rugbyondersteuners – soos sir Clive Woodward – voorspel dat daar binnekort net spanne uit die Noordelike Halfrond in Wêreldbeker-halfeindstryde sal speel, meen Foster dat die onlangse insinking glad nie die einde van die wêreld is nie.

“Spanne uit die Suidelike Halfrond het waarskynlik te veel rugby in hierdie Covid- en kwarantynwêreld gespeel. Argentinië het kwaai gesukkel omdat hulle so baie moes reis, Suid-Afrika het vyf toetse verloor en Australië was sewe keer aan die verloorkant.

Ek is eintlik trots op wat ons in hierdie tyd vermag het.”

All Blacks-uitslae in 2021:

102 – 0 teen Tonga

57 – 23 teen Fidji

60 – 13 teen Fidji

33 – 25 teen Australië

57 – 22 teen Australië

38 – 21 teen Australië

39 – 0 teen Argentinië

36 – 13 teen Argentinië

19 – 17 teen Suid-Afrika

29 – 31 teen Suid-Afrika

104 – 14 teen die VSA

54 – 16 teen Wallis

47 – 9 teen Italië

20 – 29 teen Ierland

25 – 40 teen Frankryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokkie ·

Ek is ‘n groot All Black ondersteuner. Maar ek dink nie te veel van Foster as afrigter nie. En glad niks van Plumtree nie.

SomeOne ·

vb, net soos krieket van ‘n paar jaar gelede, of omgekoop, of self besluit, vandag speel ons hard, maar laat alle bal besit kanse verygaan of brou, die afrigter maak nie ‘n span nie, maak somtyds nie saak wat hy probeer om die span leer te leer nie.
so baie bewyse van “swak” spel, vb, ‘n paar weke dalk maande terug was die telling, vb, 31 – 9, nou skielik, die omgekeerde 9 – 31, wie’s nou verantwoordelik daar(v)oor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.