Foto’s: Pure Cheetahs-plesier op Loftus!

Die Cheetahs het ses drieë op Loftus Versfeld gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Cheetahs het vroeg gisteraand die verdedigende Curriebeker-kampioenspan op sy tuisveld laat les opsê toe hulle die Blou Bulle met 38 – 25 op Loftus Versfeld geklop het.

Siya Masuku was die generaal wat die toutjies vir die besoekers getrek het en hy is as die speler van die wedstryd aangewys.

Hoewel die 25-jarige losskakel nie vooraf baie wedstrydtyd – weens Covid-19 – agter die blad gehad het nie, het sy vertoning vir Hawies Fourie (Cheetahs-breier) breed laat glimlag.

“Siya bly kalm onder druk, terwyl hy vaardigheidsgewys oor alles beskik wat jy van ’n no. 10 verwag. Hy is goed op die aanval en verdediging, terwyl sy skopwerk ook lof verdien. Twee van ons drieë was immers te danke aan sy flinke voetwerk; ek voorspel ’n blink toekoms vir hom,” het Fourie gesê.

Die Cheetahs se voorspelers het egter met ’n stewige vertoning die grondslag vir hul agterlyn se toertjies gelê, terwyl hardebaard-spelers soos Frans Steyn en Ruan Pienaar vir die nodige kalmte gesorg het.

’n Bonuspunt-oorwinning (danksy ses drieë) op Loftus Versfeld is beslis nie te versmaai nie.

Kyk gerus onderaan die berig na GB Jordaan se aksiefoto’s.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Louis van der Westhuizen (2), Rosko Specman, Clayton Blommetjies, Aidon Davis en Andile Ntsila. Doelskoppe: Ruan Pienaar (5).

Blou Bulle: Drieë: Cameron Hanekom, Stravino Jacobs en Sibongile Novuka. Doelskoppe: Chris Smith (2). Strafskop: Smith. Skepskop: Smith.

  • In Kimberley het Griekwas vir die Pumas met 41 – 20 ore aangesit.

Die Laevelders was gereeld aan Aimee Barrett-Theron se verkeerde kant en sy het hulle genadeloos gestraf: ’n Strafdrie en ’n magdom geelkaarte het die storie van die Pumas se treurmare vertel.

Zander du Plessis het met sy agt suksesvolle strafskoppe (waaronder ’n monsterpoging van meer as 60 m) die Pumas gestraf waar dit die seerste maak: Op die telbord.

Puntemakers:

Griekwas: Drieë: Strafdrie, Alandré van Rooyen en Munier Hartzenberg. Strafskoppe: Zander du Plessis (8).

Pumas: Drieë: Corné Fourie, Jade Stighling en Simon Raw. Doelskop: Eddie Fouché. Strafskop: Tinus de Beer.

  • Die Haaie se puik vertoning in die tweede helfte het gesorg dat hulle die Westelike Provinsie met 35 – 20 in Durban geklop het.

Die tuisspan het binne ’n oogwink ’n rits drieë gedruk om skielik met 35 – 13 voor te loop nadat die rustydtelling 13 elk was.

Die Haaie is onoorwonne ná twee wedstryde in die reeks.

Puntemakers:

Haaie: Drieë: Inny Radebe, Celimpilo Gumede, Fez Mbatha en Marnus Potgieter. Doelskoppe: Curwin Bosch (3). Strafskoppe: Bosch (3).

WP: Drieë: Leolin Zas en Kade Wolhuter. Doelskoppe: Tim Swiel (2). Strafskoppe: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Bo aan op die log, Chantel, die beker word nie in Februarie gewen nie.

Vernon ·

Chantellie…die A Bulle span speel in die ander reeks…..

N ·

Ja wat dis mos maar die Bulle. Verloor klomp wedstryde, wen dan een dan is hulle kamstig op die ‘wen pad’ en die media hemel hulle op. Doen maar swak met n klomp gekoopde spelers, afrigters en bestuur. Baie meer verwag

quartus ·

Vanaand kan ek met n glimlag aan die slaap raak selfs al is daar dalk nie krag nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.