Fourie: ʼn Speler vir ʼn krisissituasie

Deon Fourie het ’n barshou vir die Stormers teen Harlequins gespeel. (Foto: Hansie Linde.)

As ʼn mens na die eerste twee seisoene van die Verenigde Rugbykampioenskap kyk, dan is dit duidelik dat Deon Fourie die man vir ʼn krisissituasie is.

Die 36-jarige losvoorspeler – wat die nommertweetrui ook kan dra – het gereeld vir die Stormers ʼn haas uit die hoed gepluk. Hetsy deur omgekeerde balbesit te bewerkstellig, of om ʼn strafskop te wen wanneer hy op die grond vir die bal baklei.

John Dobson en kie het ruiterlik erken dat hulle sy balsteelvaardighede gemis het toe hy vroeër op die krukkelys was. Onderkry is egter min en Fourie was kort voor lank weer op sy pos – gereed om dinge nag vir sy teenstanders by die afbreekpunte te maak.

Nou sal die Springbokke op ʼn soortgelyke vertoning van die veteraan speler hoop wanneer hulle Saterdag teen Argentinië kragte meet.

Fourie vorm saam met Franco Mostert en Jasper Wiese die Bokke se lostrio en ʼn goeie vertoning in Buenos Aires kan sy Wêreldbeker-kanse ’n definitiewe hupstoot gee; die groep na Frankryk word immers op 8 Augustus bekend gemaak.

“Toe die Springbokke in 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, het ek in die Franse tweede liga gespeel en ek was nog op ʼn trein op pad terug van ʼn wedstryd. Dit sal vir my baie beteken as ek die span kan haal,” het Fourie gesê.

 Fourie in aksie teen die Wallabies op Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan)

Daar is diegene wat meen dat die Bokke vir Fourie in ʼn soortgelyke hoedanigheid as die veelsydige Schalk Brits in Frankryk kan inspan. Tog is hy oorgehaal om sy eie pad in die Springbok-trui te stap.

“As ek my kaarte reg speel, sal ek enige tyd só ʼn rol wil vertolk; maar hopelik sal mense my nie as nog ʼn Schalk Brits sien nie, maar eerder as Deon Fourie.”

Vir eers konsentreer hy op die naweek se wedstryd en net soos sy spanmaats verwag hy nog ʼn vurige Argentynse aanslag.

“Argentinië speel met baie emosie, maar dit kan ʼn span ook net so ver in ʼn wedstryd bring. Ons moet by ons wedstrydplan bly en ons beste gee; hopelik sal ons dan met die louere wegstap.”

Wanneer jou span met sy rug teen die muur staan, wil jy ’n speler soos Deon Fourie in jou hoek hê. Dit is nie eens altemit nie.

Die wedstryd begin Saterdag om 21:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Gerhard Steenekamp, Vincent Koch, Jean-Luc du Preez, Evan Roos, Herschel Jantjies, Jesse Kriel en Kurt-Lee Arendse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.