Frans Steyn nou direkteur van rugby by Cheetahs

Frans Steyn (Foto: Toyota Cheetahs)

Frans Steyn staan nou aan die stuur van sake by die Toyota Cheetahs nadat hy as die Vrystaters se nuwe direkteur van rugby aangestel is.

Hy sal vanaf 1 November dié top-pos beklee.

Steyn (36) sal as direkteur van rugby toesig hou oor rugbybedrywighede wat bydra tot die span se strategie, spelerontwikkeling en die strewe na uitnemendheid op en van die veld af.

Hy sal ook verantwoordelik wees om Cheetah-rugby aktief in Vrystaatse skole te bevorder deur jong, opkomende Cheetah-spelers te ontgin.

Steyn sê hy is geweldig opgewonde om die nuwe rol op te neem.

“My aanvanklike fokus sal wees om Cheetah-rugby aktief op skool- en junior vlak te bevorder. Ek sien uit daarna om nou saam met MJ Smith [hoofbedryfsbeampte] te werk om die rugbyprogram te verhoog en voort te bou op die trotse geskiedenis van die Toyota Cheetahs,” sê Steyn.

Frans en sy gesin woon in Bloemfontein en sy kinders is goed gevestig in hul skole in die Rosestad.

Dit plaas die Toyota Cheetahs in ʼn gunstige posisie om sy diens te behou.

Ross van Reenen, uitvoerende hoof van die Toyota Cheetahs, sê hy is verheug dat Steyn die aanbod aanvaar het om by die Toyota Cheetahs aan te bly.

“Frans Steyn is ʼn ikoniese figuur in wêreldrugby en ons is uiters bevoorreg om hom in ons kraal te hê. Sy rugbykundigheid en passie vir die spel strook perfek met ons visie vir die Toyota Cheetahs. Ons glo hy sal help om die Toyota Cheetahs te hervestig as ʼn krag om mee rekening te hou,” sê Van Reenen.

Steyn was een van die veelsydigste spelers in wêreldrugby en het as losskakel, senter en heelagter op die veld gedraf. Hy was deel van die Springbokspan wat in 2007 en 2019 die Wêreldbeker gewen het.  Hy spog ook met ʼn suksesvolle klubloopbaan in Suid-Afrika (Haaie en Toyota Cheetahs) en internasionaal (Racing Metro 92, Toshiba Brave Lupus en Montpellier).

Hy het die Toyota Cheetahs in 28 wedstryde verteenwoordig en ʼn beduidende impak op en af van die veld gemaak.

Sy laaste wedstryd was die Curriebeker-wedstryd teen die Vodacom Bulls op 24 Maart in die Toyota-stadion in Bloemfontein, waar hy ʼn kniebesering opgedoen het. Hy het in Julie sy uittrede aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Vrystaat se probleem was nog altyd om die jong skole sterre in die provinsie te hou.

vuurvliegie ·

Hennie as ou Frans dit kan regkry sal die rugby stadion weer vol wees in Bloemfontein. Ek wens hom alle voorspoed toe en ek glo Frans was die beste keuse. Sterkte Frans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.