Franse seweskaptein al te bewus van Dupont se waarde

Antoine Dupont in aksie op die sewesveld in Vancouver. (Foto: Don MacKinnon/AFP)

Antoine Dupont het weliswaar nie veel tyd op die speelveld in sy eerste wedstryd vir Frankryk se sewesrugbyspan gekry nie, maar kaptein Paulin Riva is opgewonde oor die talismanspeler se blitsrugbytoekoms.

Veral met die Olimpiese Spele om die draai in Parys.

Die persoon in beheer van die mikrofoon daar by die HSBC-sewesaksie in Vancouver het ook nie geskroom om die heuningkwas uit te haal toe Dupont sy verskyning in die tweede helfte van Frankryk se kragmeting teen die VSA gemaak het nie.

“Verwelkom asseblief een van die bestes nóg en die wêreld se voorste speler, Antoine Dupont, op die sewesveld,” het dit deur die luidsprekers weergalm terwyl die ondersteuners lekker saamgesels het.

Frankryk het die kragmeting met 24 – 12 beklink en Dupont het sy eerste tree na moontlike Olimpiese glorie gegee.

“Antoine is ʼn uitstekende speler en dit is vir ons baie belangrik om hom op die sewesveld by te staan. Hy is die beste ter wêreld en dit is ʼn voorreg om saam met hom te speel,” het Riva gesê.

Volgens Dupont is hy oorgehaal om sy Olimpiese medaljedrome te verwesenlik.

“Vir die meeste sportliefhebbers is die Olimpiese Spele ʼn amper mitiese gebeurtenis. Dit beloof om ʼn groot partytjie in Frankryk te wees.”

Natuurlik beteken sy sewesdeelname dat hy Frankryk se Sesnasies-veldtog misloop.

“Wanneer ʼn mens in een kompetisie verloor, wil jy iets anders doen om weer te wen,” het Dupont in ʼn onderhoud met die BBC gesê.

Hy verwys natuurlik hier na Frankryk se Wêreldbeker-teleurstelling nadat die Springbokke die Hane met 29 – 28 in die kwarteindstryd op die Stade de France geklop het.

Tog weet hy dat sy sewespad nie noodwendig ʼn maklike een gaan wees nie.

“Ek dink die laaste keer wat ek sewesrugby gespeel het, was op o. 18-vlak. Tog is dit steeds rugby en daar is baie ooreenkomste [met die vyftienmanweergawe]. Ek sal moet hard werk om mededingende spel in al die kompetisies op te dis.”

  • Frankryk het ook vir Samoa met 40 – 7 op die eerste dag van die Vancouver-toernooi geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.