Gewilde Virseker-reeks ook vir eers van die baan

Foto: Verskaf.

Met die nuus dat kontaksport by skole met onmiddellike inwerkingtreding gestaak word, is die Virsekerbeker-reeks ook vir eers van die baan.

Die gewilde skolerugbytoernooi, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar sou vier, het vroeër met groot opwinding te midde van streng Covid-19-regulasies begin.

Toeskouers is onder meer nie by wedstryde toegelaat nie, terwyl kragmetings ook op kort kennisgewing gekanselleer kon word indien daar kommer oor positiewe gevalle sou wees.

Volgens Neil van der Walt, bemarkingsbestuurder van Virseker, is die reeks nog net twee keer in sy geskiedenis gekanselleer – in 1948 weens die polio-epidemie en verlede jaar met die aanvang van die wêreldwye pandemie.

Hy het egter bygevoeg dat so iets nie noodwendig weer in 2021 sal gebeur nie en dat die situasie deurgaans gemonitor sal word.

“Ons onderneem ook om te alle tye, in samewerking met die departement van onderwys, in die beste belang van die leerders op te tree. Sodra die Virsekerbeker weer mag afskop en ons die spelers, hul ouers en onderwysers veilig kan hou, sal ons volstoom voortgaan met pragskolerugby,” het hy gesê.

Die departement het gister in ’n verklaring geskryf dat daar besluit is om kontaksport by skole vir eers te staak nadat skolesport gedurende die laaste week van die eerste kwartaal verskeie Covid-19-uitbrekings in Gauteng tot gevolg gehad het. Virusgevalle neem ook tans geleidelik toe.

Die bekende sportsielkundige, dr. Henning Gericke, meen dat ouers nou ’n baie belangrike taak het.

“Ons leef in tye waar ouers en onderwysers vir kinders hoop moet gee; hulle kyk spesifiek hoe volwassenes teleurstelling hanteer. Daarom is dit belangrik dat ouers hul kinders se teleurstelling moet erken, maar terselfdertyd ook vir hulle leer dat daar groter dinge in die lewe as rugby of netbal is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sone ·

Jammer vir die skole maar beter vir Virseker virsekering se kliente.
Dalk sal Virseker nou genoeg tyd he om aan hul kliente aandag te gee en nie dat n klient 3 ure wag vid padbystand nie………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.