Goosen weer in no. 10-trui

Johan Goosen en Embrose Papier. )Foto: GB Jordaan. )

Johan Goosen maak sy terugkeer tot die Bulls se opdrafspan nadat ʼn skouerbesering hom vir ʼn paar weke op die krukkelys gehou het.

Hy sal saam met Embrose Papier die Pretorianers se skakelpaar wees wanneer hulle Saterdag op Ellispark teen Zebre in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd te staan kom.

Daar sal sommer dubbeldoor rugbyaksie in Johannesburg wees wanneer die Lions ná die Bulls-kragmeting teen Leinster op die einste Ellispark kragte meet.

Die Bulls is tans sewende op die VRK-punteleer met 43 punte, maar die Sharks (41 punte), Benetton (40 punte), Cardiff (39 punte) en selfs die Lions (38 punte) is binne trefafstand.

ʼn Goeie vertoning teen Zebre is dus broodnodig om hul pad na die uitspeelrondes meer gelyk te maak.

Jake White (afrigter) sal sy agterlynsterre – Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie – ook teen die Italianers loslaat, terwyl Stedman Gans  ʼn kans in die no. 13-trui kry.

Voorlangs is Elrigh Louw, Cyle Brink en Marco van Staden die lostrio, terwyl Ruan Nortjé saam met Ruan Vermaak in die lynstane sal rank.

Maar terug na Goosen.

Die 30-jarige losskakel was op sy aanvallende beste toe White hom ʼn paar seisoene gelede uit Frankryk gaan haal het om sy vaardighede op Loftus Versfeld uit te stal.

Maar dit is duidelik dat ʼn paar ontydige beserings hom van sy selfvertroue beroof het en hy sal hard moet werk om weer sy mojo te vind.

Dit is immers ʼn Wêreldbeker-jaar.

Die wedstryd begin om 13:00 op Ellispark, terwyl die Lions om 16:00 teen Leinster sal kragte meet. Al twee kragmetings word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), David Kriel (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot en kaptein), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Dylan Smith, Francois Klopper, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Keagan Johannes, Chris Smith en Cornal Hendricks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.