Griekwas bly op koers na Boland se loesing

Griekwas-logoJy kan nie sonder die bal speel nie. Ondanks ʼn paar indrukwekkende skrums aan die begin, was besit die Boland se grootste probleem in sy neerlaag Donderdagaand teen Griekwas in Kimberley. Griekwas het 46-22 gewen.

Die Boland is redelik gekniehalter met ʼn hele aantal beserings. Hulle het goed verdedig en heelwat van die wenspan se drieë het van hul eie gebied gekom. Tog, al was hulle op vol sterkte, sou die Griekwas van Donderdag met foute en al nog oortuigend gewen het.

Dit was Griekwas se vierde opeenvolgende sege, waarvan een teen die verdedigende Curriebekerkampioen, die Goue Leeus, was.

Griekwas was rustyd 25-3 voor en was op pad na ʼn nóg groter oorwinnings die 46-22. Die Boland, wat deurgaans probeer het en ondanks ʼn magdom foute – iets waaraan Griekwas ook te dikwels skuldig was – het teen die einde twee van hulle drie drieë gedruk om die telling ietwat meer respektabel te maak.

Die Poubloues was in die wedstryd ook nie op hul beste nie. Daar was soms goeie en ook pragtige rugby, maar hulle sal moet beter as hulle in die oorblywende drie wedstryde hul aanspraak op ʼn uitspeelplek wil behou of verstewig.

Puntemakers  

Griekwas (25) 46: Drieë: AJ Coertzen, Ederies Arendse, Elgar Watts 2, Clinton Swart, Wendal Wehr. Doelskoppe: Swart 5. Strafdoel: Swart.
Boland (3) 22: Drieë: Theuns Kotze, Craig Pheiffer, Adriaan Carelse. Doelskoppe: Kotze, Carelse. Strafdoel: Kotze.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.