Haaie weer Leeus se baas op Ellispark

Foto: GB Jordaan

Wanneer ʼn skoolafrigter voor derbydag oor die naweek se belangrike wedstryd teen die buurskool gepols word, is sy antwoord gewoonlik ʼn baie voorspelbare “die span wat hul geleenthede die beste benut, sal wen”.

Toegegee, dit verg nie verstommende logika om dié gevolgtrekking te kom nie, maar dit is ʼn universele waarheid wat rugby betref. En vandag het die Leeus gedurende hul Curriebeker-stryd in Johannesburg teen die Haaie hulself beslis nie aan daardie skoolafrigter gesteur nie en verskeie kanse in die Jukskeirivier gesmyt.

Hoewel hulle met die meeste balbesit, gebiedsvoordeel én drieë gespog het, het hulle steeds die wedstryd 30-28 verloor. Dan was ʼn paar stelskoppe ook van die hand gewys – wanneer ʼn mens terugkyk na só ʼn naelbytstryd, is nege punte baie wanneer jy die wedstryd met net twee punte verloor het.

Die Durbaniete blyk om die Leeus se temmers in die Johannesburg te wees – hulle het hul Superrugby-wedstryd in die Goudstad 42-6 gewen.

Foto: GB Jordaan

Jeremy Ward was vandag ʼn doring in die Leeus se vlees en sy twee drieë het gesorg dat die Haaie die voortou neem, maar die Johannesburgers het, soos wat hul gewoonte hierdie seisoen is, goed teruggeveg.

Toe Marnus Schoeman in die 75ste minuut gaan druk om die telling 28 -30 te maak, was die leeutrop los in die akwarium en ʼn paar senutergende oomblikke het op die besoekers gewag.

Maar ʼn aanslaan het die Leeu-vlam uitgedoof en die Haaie het die Leeu-toets geslaag. Vir die tweede agtereenvolgende wedstryd kon die Johannesburgers nie die wedstryd in doodsnikke beklink nie.

  • Puntemakers:

Haaie: Drieë: Jeremy Ward (2) en Sanele Nohamba. Doelskoppe: Nohamba (2) en Rhyno Smith. Strafskoppe: Nohamba (2)

Leeus: Drieë: Shaun Reynolds (2), Tyrone Green, Marnus Schoeman. Doelskop: Reynolds. Strafskoppe: Reynolds (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiepie ·

Volgens die opsomming van julle “Puntemakers” het die Leeus die wedstryd 28-27 gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.