Hane gerat om teen Kiwi’s koning te kraai

Vlok Cilliers (middel) saam met Melvyn Jaminet en Thomas Ramos. (Foto: Verskaf)

In teenstelling met Olivier Magne se All Blacks-kritiek – die oudspeler meen immers dat die Nieu-Seelanders se fut heeltemal uit is – glo die Franse rugbyspan dat die driemalige Wêreldkampioen steeds gedugte teenstanders is.

Gedug, maar nie onoorwinlik nie.

Die Fransmanne speel Vrydag in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen die Kiwi’s in Parys en hoewel dit dalk in ʼn geskrop en geskarrel op die Stade de France kan ontaard, is die Hane se sending eenvoudig: Skop stof op teen die All Blacks.

ʼn Goeie vertoning teen Ian Foster se span is immers bitter belangrik vir die gasheerland se Wêreldbeker-veldtog; nie net om hul enjin aan die gang te kry nie, maar ook om die nodige ondersteuning gedurende die toernooi te geniet.

“Ons glo beslis dat ons goed genoeg is om met die All Blacks af te reken. As ons dit nie geglo het nie, moes ons nie hier [deel van die nasionale rugbyopset] gewees het nie. Net soos enige ander span weet ons dat ons op die wedstryddag oor genoeg skietgoed beskik om ons teenstanders te klop,” het Vlok Cilliers aan Maroela Media gesê.

(Foto: Verskaf.)

Die voormalige Springbok-speler is deesdae Frankryk se skopafrigter en hy meen ook rugbyliefhebbers moet briek aandraai om die Nieu-Seelanders af te skryf.

“Hulle bly ʼn topspan met baie goeie spelers, terwyl hulle ook al ʼn rits bekers gewen het. Spelers soos Beauden Barrett en Aaron Smith kan die nodige vonk verskaf, maar ons fokus op die hele span as ʼn geheel, want dit is waar hulle gevaarlik is.”

Die All Blacks verloor nie sommer ʼn Wêreldbeker-groepwedstryd nie – selfs nie eens ná 31 probeerslae nie – maar Frankryk weet terselfdertyd hoe dit voel om die Kiwi’s in ʼn uitklopwedstryd te klop.

Frankryk het met die Nieu-Seelanders in die halfeindstryd van die 1999-toernooi klaargespeel, terwyl hulle ook hul kwarteindstryd-ontmoeting in 2007 gewen het.

Boonop het die Bokke ook op Twickenham met ʼn meesterplan vorendag gekom om die All Blacks te oordonder.

Gaan die Franse nou ʼn bietjie by die Suid-Afrikaners afkyk, of gaan hulle by hul eie wenresep bly om die Kiwi’s te tem?

Die Franse rugbyspan wil hul ondersteuners trots maak. (Foto: Franck Fife/AFP)

“Net soos met enige ander wedstryd doen ons vooraf ons eie ontleding, maar ons het beslis die Twickenham-kragmeting saam met die res van die wêreld dopgehou,” het Cilliers erken.

Romain Ntamack en Paul Willemse sal die Wêreldbeker-aksie van langs die kantlyn moet volg, terwyl daar nog oor Jonathan Danty se fiksheid vir die openingswedstryd gesweet word. Tog reken die 55-jarige skopghoeroe dat die Hane se gebeurlikheidsplanne trefseker is.

“Ons beskik oor genoeg diepte. Ons beraam al vir die afgelope vier jaar planne en hou gereeld besprekings om só ʼn hindernis te oorbrug.”

Volgens Cilliers het die keerpunt vir die Franse ná die 2019-Wêreldbeker in Japan gekom.

“Die span het toe bymekaar gekom en dinge soos dissipline en bestendigheid aangeraak. Hulle kan dit byvoorbeeld nie bekostig om die een week met die All Blacks af te reken en die volgende week teen Kanada vas te val nie Hierdie span het saam in twee o.20-Wêreldbeker-toernooie gespeel en hulle is die nuwe generasie van Franse rugbyspelers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.