Hooper terug, maar nie as kaptein

Michael Hooper is weer terug in die Wallabies-groep. Foto: Michael Bradley/AFP.

Michael Hooper is terug in die Wallabies-groep vir hul jaareind-avontuur na Europa, maar hy sal nie die span op die veld lei nie.

James Slipper – wat die kapteinskapskoene in die losvoorspeler se afwesigheid aangetrek het – sal steeds die besluite op die veld neem.

Die 30-jarige Hooper het in Augustus ʼn onbepaalde blaaskans geneem nadat hy aan die vooraand van Australië se twee wedstryde teen Argentinië aangedui het dat hy met sy gemoedstoestand en geestelike welstand sukkel en hy het homself aan die span onttrek.

Hy het ook die daaropvolgende Rugbykampioenskap-wedstryde teen die Springbokke en die All Blacks misgeloop.

Hoewel Dave Rennie (afrigter) aanvanklik onseker was oor wanneer Hooper sy terugkeer sou maak, is hy bly dat die veteraan van 121 toetse weer deel van die Wallabies-opset is.

“Dit is ʼn groot hupstoot vir die span om vir Michael terug te hê en ons sal seker maak dat hy die nodige ondersteuning geniet,” het Rennie gesê.

Die Aussies speel hul eerste wedstryd op 30 Oktober teen Skotland in Edinburgh, waarna hulle met Frankryk (6 November), Italië (13 November), Ierland (20 November) en Wallis (27 November) sal kragte meet.

“Die toer is ʼn uitstekende geleentheid om nie net onsself met van die wêreld se voorste spanne te meet nie, maar ook om vertonings te lewer waarop ons ondersteuners kan trots wees,” het Rennie afgesluit.

Wallabies se toergroep: James Slipper (kaptein) Allan Alaalatoa, Tom Banks, Jock Campbell, Ben Donaldson, Folau Fainga’a, Lalakai Foketi, Bernard Foley, Matt Gibbon, Nick Frost, Langi Gleeson, Jake Gordon, Ned Hanigan, Reece Hodge, Jed Holloway, Michael Hooper, Len Ikitau, Andrew Kellaway, Noah Lolesio, Lachlan Lonergan, Tate McDermott, Fraser McReight, Mark Nawaqanitawase, Cadeyrn Neville, Hunter Paisami, Jordan Petaia, Matt Philip, David Porecki, Tom Robertson, Pete Samu, Will Skelton, Sam Talakai, Taniela Tupou, Rob Valetini, Nic White en Tom Wright.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

N ·

Hoop ou Hooper het baie tyd in die gym in gesit. Hy gaan weer die hele span moet dra.

Niklaas ·

Duidelik het Hooper nog nie te lank in SA vertoef nie. Dan sou hy gesukkel het met gemoedstoestand en geestesgesondheids kwessies wat erg is. Sover ek weet woon die inwoners van Sydney heerlik daar. So hy moet maar sy seëninge tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.