Ier kla nou oor Kitshoff se skrumwerk

Steven Kitshoff spog met twee Wêreldbeker-wennersmedaljes. Daar is nie veel Ierse spelers wat dít kan sê nie. (Foto: Jean Catuffe/DPPI via AFP)

Steven Kitshoff is ʼn tweemalige Wêreldbeker-wenner, terwyl hy ook die Stormers na silwerwarehoogtes aangespoor het.

Maar Stephen Ferris meen dat die Suid-Afrikaanse stut geweeg en te lig bevind is in sy tyd by Ulster.

Die Stormers het verlede week aangedui dat Kitshoff weer van volgende seisoen op die DHL-stadion sal uitdraf nadat hy Belfast ʼn seisoen of twee vroeër kan groet.

“Dit is vreemd, want almal was aanvanklik so opgewonde toe Ulster dié Wêreldbeker-wenstut se handtekening bekom het en hy sou baie tot die span se sukses bygedra het. Ek dink egter dit is eerder Steven Kitshoff wat in die skrums oorheers is en nie andersom nie,” het Ferris gesê.

Volgens die voormalige Ierland-losvoorspeler is Ulster se geploeter in die skrums wel nie net Kitshoff se skuld nie.

“Voorrymanne soos Rob Herring en Tom Stewart was ook onder geweldige druk, maar sy [Kitshoff] se tekortkominge is ook uitgewys.”

Die 32-jarige stut het juis in aanloop tot sy Ulster-loopbaan erken dat die span se aanvanklike gesukkel ʼn wekroep vir hom was.

“As ʼn speler moet jy bereid wees om hard te werk; veral as dinge nie reg uitdraai nie. Ek het nog nie gespeel soos wat ek weet ek kan nie. Tog het ek dit al vantevore gesê: Rugby is ʼn vreemde spel – ná sewe dae kry jy weer ʼn geleentheid om te speel en hopelik vuur ek dan op alle suiers,” het Kitshoff destyds gesê.

Dan McFarland, voormalige Ulster-afrigter, vol was lof vir sy Suid-Afrikaanse invoerproduk.

“Ek dink sy algemene spel – en nie net sy skrumwerk nie – is een van sy grootste sterk punte. Hy dra die bal uitstekend, hy verdedig goed en hy is altyd ʼn gevaar op die veld,” het McFarland gesê.

Ulster sukkel tans met finansiële probleme en in 2023 het die klub ʼn verlies van £900 000 gely.

Intussen glimlag John Dobson breed oor Kitshoff se terugkeer.

“Steven is een van die Stormers se grootste spelers nóg en hy dra baie tot die span se sukses by – op en langs die veld. Ons wou hom nog altyd terug in Kaapstad gehad het en ek is baie dankbaar dat dit so gou ʼn werklikheid geword het,” het die Stormers-afrigter gesê.

Steven Kitshoff en kie op die aanval. (Foto: Hansie Linde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Klink ampert soos suur druiwe. Noudat dit bekend is dat Kitsie teruggaan na die Stormers , is hy kastig skielik nie meer waardevol vir Ulster nie. Dis nie vreemd om so iets teë te kom nie.

kragaap ·

Die res van die rugby wêreld kerm oor Bok spelers, style, en span keuses. Punt is hul kan nie die fisiese druk en impak van ons spelers vir 80 min absorbeer nie.

Manie ·

Het Ferris al gehoor dat skrumwerk al 8 voorspelers se werk is?

JN ·

Manie presies! Kitshoff kan n briljante skrummer wees, sonder die agterosse is jy ok maar min..

Miena ·

Ek is n trotse stoere Blou Bul onderstuener – maar ek wil net sê – Kom terug huis (SA) toe Steven. Ons kan jou beter benut as hulle. Bly aan ons kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.