Jake besing Duane se lof

Duane Vermeulen. Foto: GB Jordaan.

In Pretoria staan die Superrugby Unlocked-trofee reeds by Loftus Versfeld. Nou is die kanse ook goed dat die Curriebeker weer sy tuiste in Kirkness-straat 416 kan vind.

Die Blou Bulle speel die naweek in die eindstryd van die Carling Curriebeker-reeks teen die Haaie op die einste Loftus Versfeld.

En een van die redes vir die Bulle se sukses is die leierskap van Duane Vermeulen.

Die 34-jarige Springbok-losvoorspeler is sy gewig in goud werd. Hy hou die span rustig in die drukkoker-situasie van ’n uitspeelwedstryd, terwyl hy steeds ook ’n verdediger of twee (of drie!) laat les opsê wanneer hy die bal in die hand het.

Ja, in Jake White het die Pretorianers ’n afrigter wat iets van wenrugby weet, maar dit is die kaptein wat moet toesien dat die spelers op die veld oor ’n naweek die wa deur die drif trek.

“Duane weet wanneer dinge sal werk; jy moet hom net vertrou. ’n Mens moet nooit onderskat wat ’n goeie kaptein vir ’n span beteken nie,” het White gesê.

Die afgelope naweek het die Bulle se dissipline die grootste slag in die halfeindstryd teen die Leeus geslaan.

Die Pretorianers het tien strafskoppe teenoor die Leeus se 21 afgestaan en die tuisspan het die wedstryd met 26–21 op Loftus gewen.

“Hy was uitstekend. Ek dink die manier hoe hy met die spelers gepraat het, het ’n deurslaggewende rol gespeel.”

In die 17 Curriebeker-eindstryde wat al op Loftus Versfeld beslis is, het die Bulle 14 keer die beker omhoog gehou.

“Die Curriebeker is een van die oudste reekse in wêreldrugby en dit het ’n spesiale plek in my hart. Die eindstryd gaan ongetwyfeld vir nuwe uitdagings sorg, maar ons speel op ons tuisveld en ons het al vantevore die Haaie gewen,” het White afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

Geloofwaardige kaptein! Welverdiend en op mariete gekies, daarom kan hulle maar sy lof besing. Hy speel rugby, hy maak nie advertensies nie.

MakersMark ·

Die eintlike leier van die wereldbeker bokke – yster speler en kaptein. Praat min, doen baie. Ander kaptein sing in die tonnel, speel nie sommer langer as 60 min, en spandeer baie tyd om media superstar status te bou. En as sy span verloor weet hy nie eintlik hoekom nie en is baie teleurgesteld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.