Jake, Bulle gee Duane klop op skouer

Duane Vermeulen. (Foto: GB Jordaan.)

Duane Vermeulen het ʼn definitiewe verskil in sy tyd op Loftus Versfeld gemaak en die hardebaard losvoorspeler het die Pretorianers na ʼn Curriebeker- en Superrugby Unlocked-titel gelei.

SA Rugby het Woensdag die 37-jarige Wêreldbeker-wenner – wat onder vriend en vyand as “Thor” bekendstaan – se amptelike uittrede bevestig.

Benewens sy 76 internasionale toetse het Vermeulen ook in 23 wedstryde vir die Bulle uitgedraf en Jake White het die Springbok-ster vir sy professionele benadering tot die spel geloof.

“Duane was ʼn invloedryke speler in sy tyd op Loftus; iemand wat nie net met ongelooflike werketiek spog nie, maar ook oor die vermoë beskik om die gang van ʼn wedstryd binne ʼn oogwink te verander,” het White gesê.

Volgens die Bulle se hoofafrigter het Vermeulen se slim tegniese spel gereeld toegesien dat die Bulle op die voorvoet in die vaste fasette was.

“ ʼn Mens kry baie selfvertroue as jy weet dat ʼn speler op ʼn gereelde grondslag met uitstekende spel vorendag kom. Hy is ʼn topleier en sy spanmaats geniet dit om in sy teenwoordigheid te wees.”

Vermeulen het ná sy tyd op Loftus ʼn paar wedstryde vir Ulster gespeel en afrigter Dan McFarland het ook nie geskroom om die heuningkwas uit te haal om sy rugbyvaardighede te beskryf nie.

“Duane is ’n wonderlike speler, hy is die agtsteman van die verdedigende Wêreldkampioenspan én die speler van die wedstryd in die eindstryd van die 2019-Wêreldbekertoernooi. Sy ervaring is van onskatbare waarde,” het McFarland destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

electricmango ·

So jammer hy en Schalk het nie saam vir die bokke opgedraf nie. Dink net die pret wat hy, Schalk en Reuben Kruger sou gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.