Jantjies kies dalk koers na Frankryk

Elton Jantjies. (Foto: GB Jordaan).

Gerugte word al hoe sterker dat die Springbok-losskakel Elton Jantjies aanstaande seisoen vir die Franse klubspan Toulon gaan uitdraf.

Die omstrede Jantjies bevind hom tans in die rugby-wildernis nadat hy verlede maand uit Argentinië na Suid-Afrika teruggestuur is weens beweringe van ’n verhouding met ’n lid van die Bokke se bestuurspan.

Luidens ’n berig Dinsdag in die Franse publikasie Midi Olympique is Jantjies naby daaraan om ’n ooreenkoms met Toulon te sluit vir sy dienste.

Jantjies se huidige werkgewer, die Japanse klub NTT Docomo Red Hurricanes in Osaka, was skynbaar bitter ongelukkig oor die beweringe dat Jantjies in ’n buite-egtelike verhouding betrokke was. Dié klub word deur die Suid-Afrikaner Johan Ackermann afgerig. Hy het Jantjies lank gelede ook by die Leeus gebrei.

Alle aanduidings is dat Jantjies se kontrak met die Hurricanes nie aan die einde van die jaar hernieu gaan word nie.

Daar heers tans ook onduidelikheid oor die Bok-losskakel se deelname aan die Springbokspan se jaareindtoer.

Met Handré Pollard op die krukkerlys is die Bokke dun op losskakel.

Jantjies se optrede en beweerde gefuif in Mbombela het hom egter ook die gramskap van die Suid-Afrikaanse rugbybase op die hals gehaal en skynbaar is die Bokkeurders gevra om Jantjies nie vir die einde van die jaar se Europese ekskursie te oorweeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Soe is die gryp gryp in ‘n hotel met nie sy vrou net stil gemaak?

Jackie ·

Moet hom nooit weer vir bokke kies nie. Hy het genoeg kanse gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.