Jones onder groot druk om Engelse span te verander

Danny Cipriani moet gekies word, meen Engelse media en ondersteuners. (Foto: Premiership Rugby).

Rassie Erasmus het gesê hy gaan verstellings aan die Springbokspan vir die derde toets doen.

Hy wil ook ander spelers op dié vlak sien speel en dit is alles deel van die keurproses op pad na aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Dis goed en reg so. Die All Blacks, wat ook húl reeks teen die Franse gewen het, oorweeg ook veranderinge benewens hul beserings, en Wallis het hul proefnemings sommer al met die keuse van hul toerspan se spelers na die Amerikas gedoen.

Vir Eddie Jones is die skuiwe wat voor die derde toets teen Suid-Afrika op Nuweland voorlê, egter nie ʼn proefneming nie, maar ʼn poging om sy pos by Engeland te red.

Hoewel die Engelse beheerliggaam, die Rugby Football Union (RFU), gesê het daar is geen plan om sy posisie as afrigter te heroorweeg nie – en Jones meen die neerlae is maar soos dit vir alle spanne gebeur – is daar groot druk van die media en ondersteuners in Engeland.

Hul siening is dat dit daar probleme van die veld af is wat tot die swak gehalte rugby bydra. Die spelers is gespanne, met twee spelers wat in Bloemfontein in woordewisseling met toeskouers betrokke geraak het en die ervare skrumskakel Ben Youngs wat sy TV-onderhoud ná tien sekondes kortgeknip en padgegee het.

♦ Dit is Jones se houding van onaantasbaarheid wat na die span deurvloei, sê die media.

Die voortgesette swak dissipline op die veld dui op probleme in die Engelse kamp, het die voormalige losskakel Andy Goode in sy weeklikse rubriek op die webtuiste Rugby Pass geskryf.

Die media en die ondersteuners kla ook oor die gesukkel van die Engelse agterlyn. Benewens vier vinnige drieë ‒ twee in elke toets ‒ wat vroeg gedruk is, was daar geen vloei of slaankrag agterlangs nie.

Die blaam word op grootliks op die losskakel George Ford gelaai. Boonop is sy verdediging verdag.

“Kies vir Danny Cipriani,” is die refrein van die Engelse media. As alternatief stel hulle voor dat die kaptein Owen Farrell van senter af teruggeskuif word losskakel toe.

Daar word ook gevra waarom Mike Brown nou vleuel moet speel terwyl Elliott Daly van vleuel/buitesenter af na heelagter toe geskuif het. (Dit was juis ʼn skuif wat Jones met die oog op die Wêreldbeker-toernooi gedoen het.)

Die skrumwerk, afbreekpunte en die algemene verdediging word ook as groot swakpunte uitgesonder.

Hul skrum sal móét verander met die terugkeer na Engeland van die stut Mako Vunipola (geboorte van sy seuntjie) en die plaasvervangerstut Ellis Genge (besering tydens ʼn oefening). Op agsteman moet Mako se broer Billy Vunipola ook vervang word.

Hy het sy arm, wat hom verlede seisoen lank van die veld gehou het, weer gebreek. Hy was in elk geval tot dusver bra teleurstellend.

Verwag dus, ʼn mens weet nie presies waar nie, veranderinge by die senters en/of losskakel; dalk die terugskuif van Brown heelagter toe met Daly wat in sy plek vleuel sal wees; ʼn nuwe voorryman (of selfs voorry) en ʼn nuwe agsteman of losvoorspelerkombinasie.

Eddie Jones is onder druk, en die Engelse moet eenvoudig wen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie vd Merwe ·

Toemaar Eddie, julle sal Saterdag wen want Rassie raak nou weer die klits kwyt. Hy wil nou eksperimenteer!!!! Jy speel altyd, altyd jou bestes. Eksperimente doen jy in labratoriums!

LHS ·

Haai oe Blommie, hoe reg was baie mense nie weke gelede al dat die reeks 2-0 sou eindig. Die eerste 2 om nog meer SA ners om die kwota bos te lei en die 3e vir die ingelse wat baie ver gaan wen om ou Eddie se aansien dan weer te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.