Jong Bokke gekies vir Wêreldkampioenskap op tuisveld

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Die o. 20-Springbokgroep vir die komende Wêreldkampioenskap in die Wes-Kaap is gekies met Paul de Villiers (Westelike Provinsie) en Katlego Letebele (Blou Bulle) wat die praatwerk op die veld sal doen.

Die jong Suid-Afrikaners sal teen Georgië, Italië en Argentinië in die groepfase kragte meet en Bafan Nhleko is opgewonde oor die spelers wat hy tot sy beskiking het.

“Ek glo dat ons topgehalte spelers gekies het wat uitstekende balans aan die groep verleen. Daar is natuurlik bykomende druk op die spelers omdat hulle op hul tuisveld speel, maar ons sien dit as iets positiefs. Ons het ʼn wonderlike kans om voor ons familie en vriende in bekende toestande te speel en ons wil die beste van die geleentheid gebruikmaak,” het die nasionale o. 20-afrigter gesê.

Wêreldrugby, in samewerking met Sportable en Gilbert, het vroeër aangedui hy sal ʼn proeflopie met “slim” rugbyballe doen om wedstrydbeamptes tydens die kampioenskap by te staan.

Danksy moderne tegnologie kan die balle data aan spesiale bakens op die veld kommunikeer.

Volgens die internasionale rugbybeheerliggaam kan die tegnologie skeidsregters van waardevolle inligting voorsien. Dit kan die presiese ligging van die bal – tot 20 keer per sekonde – bepaal, terwyl dit onmiddellike terugvoer oor elke aangee en skop deurgee.

In Suid-Afrika sal die slimbaltegnologie onder meer gebruik word om ʼn vorentoe aangee uit te wys, of ʼn driedrukpoging suksesvol was of nie en om te kyk of ʼn lynstaan-ingooi skeef is.

Die televisieskeidsregter sal direkte verbinding met die tegnologie geniet en hy sal die inligting aan die wedstrydskeidsregter kan deurgee.

  • Junior Springbok-groep:

Voorspelers: Corné Lavagna (Bulle), Dian Heunis (Haaie), Mawande Mdanda (Bulle), Phatu Ganyane (Haaie), Zachary Porthen (Westelike Provinsie), Juann Else (Bulle), SJ Kotze (Leeus), Coetzee le Roux (Haaie), Tiaan Wessels (Leeus), JF van Heerden (Bulle), Abulele Ndabambi (Bulle), Corné Beets (Bulle), Gcinokuhle Mdletshe (Bulle), Ghudian van Reenen (Bulle), Jannes Potgieter (Haaie) en Paul de Villiers (kaptein, Westelike Provinsie).

Agterspelers: Imad Khan (Westelike Provinsie), Neil le Roux (Bulle), Jean Smith (Haaie), Sam Francis (Leeus), Damian Markus (Westelike Provinsie), Ethan Hooker (Haaie), Jurenzo Julius (Haaie), Katlego Letebele (onderkaptein, Bulle), Litelihle Bester (Haaie), Masande Mtshali (SA Sewes), Michael Annies (Cheetahs), Quewin Nortjé (Bulle), Hakeem Kunene (Haaie) en Regan Izaks (Bulle).

  • Bepalings:

24 Junie: Junior Springbokke teen Georgië op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch

29 Junie: Junier Springbokke teen Italië by Paarl Gimnasium

4 Julie: Junior Springbokke teen Argentinië op die Athlone-stadion in Kaapstad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Weet nie van hierdie tegnologie af nie, ek het ‘n vermoede dit kan ontaard in meer fluitjieblasery en meer “stoppages”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.