Kaartjies vlieg vir Bulls-Stormers-derby

’n Argieffoto van die rugbyaksie tussen die Bulls en die Stormers (Foto: GB Jordaan)

Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie, het vandag per WhatsApp-boodskap bevestig dat daar reeds 30 000 kaartjies vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-tweestryd tussen die Bulls en die Stormers in Pretoria opgeraap is.

“Die spelers sal ook hul klub- of skoolkouse dra. Kom ons maak Loftus Versfeld se sitplekke vol,” het Strauss geskryf.

Die Bulls is tans derde op die VRK-punteleer, terwyl die Stormers sake vanuit die sesde plek dophou.

Tog het die Kapenaars die hef in die hand wanneer daar teen die Pretorianers kragte gemeet word: Hulle verloor deesdae nie sommer ʼn rugbywedstryd teen die Jakarandastad se trots nie.

Jake White sal natuurlik alles in die stryd werp om die Stormers se momentumtrein te ontspoor. Die Wêreldbeker-wenafrigter hou daarvan as sy span as oorwinnaars van die veld stap, maar die Stormers se John Dobson wen tans loshande dié afrigterstweestryd.

Die voormalige Blou Bul‑skurmskakel Conrad Breytenbach het al vantevore aan Maroela Media gesê dat ʼn wedstryd tussen die Bulls en die Stormers nog onder die topderby-wedstryde tel; ongeag van die toernooi.

Hy vertel dat sy drie in die eindstryd van die 1998-Curriebekertoernooi soveel meer spesiaal is; juis omdat dit teen die Streeptruie was.

“As kind het ek altyd daarvan gedroom om vir die Bulle teen die WP te speel en ek glo dat die oudspelers, tradisie en geskiedenis tot die algehele gevoel van prestige rondom die wedstryd bydra. Ek dink dit is wat rugby so ʼn ongelooflike spel maak – jy vergeet nie sommer nie en jy wens jy kan dit nog vir oulaas weer doen,” het Breytenbach gesê.

“Dit is die vertoonvenster van plaaslike rugby.”

Saterdag se aksie tussen Noord en Suid begin om 17:05 in Pretoria en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Vorige uitslae tussen die Bulls en die Stormers:

23 Desember 2023: Stormers 26 – 20 Bulls

6 Mei 2023: Stormers 33 – 21 Bulls

18 Februarie 2023: Stormers 23 – 19 Bulls

23 Desember 2022: Stormers 37 – 27 Bulls

18 Junie 2022: Stormers 18 – 13 Bulls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Maar soe bietjie bang vir die Stormers Saterdag. Bulle is nou seker op hulle sterkste na sewe Bulle verlore, EN die wedstryd is op Loftus. As die Stormers Saterdag wen verdien hulle die beste span in SA. John Dobson kies daai Stormers span reg!

Niklaas ·

Mag die beste span wen. Die Stormers is die gunstelinge , dus kan ons dalks net ‘n vebete poging verwag van die Bulle , juis daaroor . Spanne wat oorgerus is kry soms lelike verrassings.

piet ·

Ek sien die bulle het reeds gewen nog voor die wedstryd gespeel is….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.