Kiwi-blaserbaas kap na lastige TV-beamptes

Matthew Carley (middel) en sy assistent-skeidsregters wag vir die TV-beampte om ’n beslissing te maak. Carley was Vrydag die hooffluitjieblaser in die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op Twickenham. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Chris Pollock, Nieu-Seeland se skeidsregterbaas, het op sosiale media sy misnoeë met TV-wedstrydbeamptes uitgespreek.

Volgens die 50-jarige oudskeidsregter hou dié beamptes as’t ware die afstandbeheerder van ʼn rugbywedstryd hopeloos te styf vas.

Pollock het veral op die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland op Twickenham gefokus; ʼn kragmeting wat die verdedigende wêreldkampioenspan met 35–7 beklink het.

So tussendeur die Bokke se skitterspel is 25 strafskoppe in die wedstryd toegestaan, terwyl die wedstryd altesaam 107 minute geduur het.

Terselfdertyd is twee drieë – dié van Will Jordan en Canan Moodie – nie toegeken nie omdat Tom Foley (TV-skeidsregter) ʼn fout of twee in aanloop tot die driedrukpoging raakgesien het.

“Die Springbokke het indrukwekkende spel in die wedstryd opgedis, maar die inmenging van die TV-skeidsregter en die bunker-stelsel was totaal oordrewe. Kontinuïteit is van groot belang en ons moet daarteen waak dat die wedstryd nie in ʼn stop/speel-storie ontaard nie,” het Pollock geskryf.

Maroela Media het verlede week berig dat Wêreldrugby die groen lig gegee het om die bunker-stelsel by die Wêreldbeker in te stel.

Dié stelsel stel beamptes in staat om te herbesin oor die erns van ʼn bepaalde oortreding, sonder dat die spel vir etlike minute onderbreek word. Volgens Wêreldrugby moet dit die skeidsregter help om te besluit of ʼn oortreding ʼn rooi kaart eerder as ʼn geel kaart regverdig.

Die All Blacks se Scott Barrett het twee geel kaarte in die Twickenham-wedstryd gekry, maar ʼn tugkomitee het Maandag beslis dat geen verdere stappe teen hom nodig is nie.

Pollock het na die pasvoltooide Wêreldbeker vir vrouesokkerspelers verwys as ʼn toernooi waar dinge op ʼn maklike dog opwindende manier aangebied is.

“Ons moet ʼn manier vind om toe te sien dat die wedstryd vir 99% van die aangewese tyd op die veld gespeel en geblaas word. Die TV-skeidsregter en die bunker-beampte is tans die invloedrykste persone in die wedstryd,” het hy afgesluit.

Pollock het intussen aan 1news bevestig dat hy die Facebook-inskrywing geplaas het, maar dat dit nie sy bedoeling was dat dit wyd en syd versprei word nie. Hy wou nie verderere kommentaar lewer nie.

Wyle Ian McIntosh het in 2021 – ná Rassie Erasmus se skeidsregterkritiek – aangevoer dat rugby té reëlbehep geword het.

“Kan iemand Wêreldrugby met die nodige respek inlig dat wette daargestel is om die spel te laat vloei; nie om dit gereeld te onderbreek nie. Terselfdertyd is dit ook belangrik dat die skeidsregter weer no. 31 op die veld word en nie no. 1 nie,” het McIntosh in ʼn onderhoud met iol.co.za gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Les ·

Klink n bietjie na suur druiwe Mnr Pollock ? Is dit dalk omdat jou land se spannetjie heeltemal oorrompel en verneder is !n Mens soek die korrekte beslissings.

JohanR ·

Ons sou niks van Mnr Pollock se kant gehoor het as dit AB -35, Bokke – 7 was nie!

JohanR ·

Jammer maar dit is een ref wat die All Blacks met niks laat wegkom het. Hoop hy blaas die Bokke/Scotland of Ierland/Bokke WB wedstryde.

Witbaard ·

Dis n goeie ding. Daar is te veel op die spel om foute te maak. Skeidsregters kan nie alles dophou of raaksien nie.

Thelsa ·

Ons kan bly wees Rassie het nie so-iets kwytgeraak nie – 3 maande se skorsing sou op hom gewag het sou hy soos Mr. Untouchable sy opinie sou lug. Dubbelstandaarde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.