Kiwi-kenner meen Bokke kan All Blacks oorrompel

(Foto: Marty Melville/AFP)

Die All Blacks is nie daaraan gewoond om rugbywedstryde te verloor nie. Om dan boonop ’n tuisreeks teen Ierland te hensop is – soos wat ’n Maroela Media-leser tereg opgemerk het – amper gelykstaande aan ’n nasionale krisis in Nieu-Seeland.

Die Springbokke en die All Blacks is op 6 Augustus in Mbombela (Nelspruit) slaags, terwyl hulle ’n week later in Johannesburg sal kragte meet.

En volgens die Sky Sport-aanbieder Ross Karl het die Suid-Afrikaners ’n goeie kans om al twee wedstryde te wen.

“Soos wat sake nou lyk, is dit moeilik om te glo dat die Springbokke nie skoonskip in die wedstryde sal maak nie,” het Karl tydens een van die Aotearoa Rugby Pod-uitsendings gesê.

Hy was veral beïndruk met Damian Willemse se spel.

Die veelsydige agterspeler het sy goeie spelpeil vir die Stormers in die afgelope Verenigde Rugbykampioenskap na die internasionale verhoog oorgedra. Hy het onder meer die eerste toets teen Wallis met ’n komkommerkoel strafskop beklink, terwyl hy ook stewig in Kaapstad vertoon het.

(Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

“Die Springbokke handhaaf ’n goeie balans sedert die vorige Wêreldbeker-toernooi. Hulle het nuwe spelers ’n geleentheid gegee, terwyl Willemse ook na ’n rugbykrag begin lyk. Terselfdertyd het iemand soos Handré Pollard net weer eens die waarde van ervaring onderstreep.”

Terwyl kritici mor dat die Suid-Afrikaners se skop-en-verdedig-wedstrydplan hopeloos te voorspelbaar is, meen Karl dat die Springbokke gedugte teenstanders is.

“Hulle is ’n baie sterk span wat oor die vermoë beskik om met enige teenstander af te reken. Die Springbokke behoort in Suid-Afrika hopeloos te veel skietgoed te hê teen ’n All Blacks-span wat besig is om weer sy voete te vind.”

Verlede jaar het die All Blacks die eerste kragmeting tussen die twee rugbylande met 19–17 gewen, waarna die Springbokke die volgende tweestryd met 31–29 beklink het.

Conrad Breytenbach, die voormalige Bloubul-skrumskakel, het voor daardie wedstryde die Springbok-rugbymeesterpatroon goed opgesom.

“Dit is nie noodwendig mooi rugby nie, maar verdediging wen wedstryde.”

En dalk is dit beter om wedstryde met vervelige rugby te wen as om met opwindende spel te verloor. Vra maar net vir die reeksverloorders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kerneels ·

Jip, ek stem – lelik wen bly nog steeds beter as mooi verloor

wildtuin ·

Ek stem , eerder n lelikke wen as n opwindende verloor. Ek waardeer dit egter waar hulle wel met hardloop rugby punte aanteken.

Afriperd ·

Ek vat liewers n mooi verloor as lelik wen, Rugby word tog gespeel vir ons as mense wat dit kyk en ek wil rugby geniet terwyl ek dit lyk. As ek die heel dag skoppe wil sien sal ek sokker kyk.

H.A. ·

Die all blacks kan maar bietjie verloor ook, want hulle het uiters goeie rekords oor die jare opgebou.

Fran ·

Moenie te selfversekerd raak nie. Dis histories die Springbokke se ondergang.

Harley Davidson ·

Die All blacks is ‘n regte span gekies op meriete.

Republikein in die Wes Kaap ·

75% van die bontebokke speel in die buiteland. Die ABs kies net plaaslike spelers. Hulle sal die beleid moet wysig. Dan is daar ‘n paar has beens. Sam Cane is een van hulle.

Republikein in die Wes Kaap ·

Foster, kies ‘n beter voorry en 12 en jy wen gemaklik. Jou vaste vyf is tans useless. Plum behoort dit te weet.

Niklaas ·

Ons moet nie te gerus raak nie. Rugby lewer gereeld verrassings op. Die AB span op Mbombela stadion in Nelspruit gaan een gedugte span wees en ons moet dit besef. Hul hou nooit nie van verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.