Kleyn kan vir Bokke speel

Jean Kleyn. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Die voormalige Ierse slot Jean Kleyn het die groen lig gekry om vir die Springbokke te kan speel.

Wêreldrugby het bevestig dat die 29-jarige Kleyn, wat in Johannesburg gebore is, aan die nodige regulasievereistes voldoen.

Die betrokke regulasie, wat aan die begin van 2022 in werking getree het, laat toe dat spelers gekies kan word vir hul geboorteland (of hul ouers of grootouers se geboorteland) sodra ’n tydperk van minstens drie jaar verloop het waar die speler nie toetsrugby gespeel het vir die land vir wie hy sy buiging gemaak het nie.

Die voormalige Stormer- en WP-slot het in 2016 na Ierland verhuis en in 2019 gekwalifiseer vir keuring. Hy is daardie jaar vir Ierland se Wêreldbekerrugby-groep gekies en het vyf verskynings gemaak. Hy is nie later weer gekies nie.

Kleyn, wat twee meter hoog in sy skoene staan, het meer as 130 verskynings vir Munster gemaak en was verlede maand deel van hul Verenigde Rugbykampioenskap-wenspan in Kaapstad.

Kleyn het die afgelope maand saam met die Bokke geoefen en kom nou in aanmerking vir keuring so vroeg as volgende maand wanneer die Springbokke se 2023-seisoen teen Australië op Loftus Versfeld afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.