Kolbe weer gereed vir aksie

Cheslin Kolbe. Foto: Christophe Simon/AFP.

Cheslin Kolbe sal Saterdag die no. 14-trui vir Toulon in hul wedstryd teen Brive in Frankryk dra.

Die vlugvoetige Suid-Afrikaner was vir ʼn geruime tyd op die krukkelys nadat hy sy kakebeen in die laaste toets teen Wallis in Kaapstad gebreek het.

Kolbe het vroeër vanjaar Toulouse vir Toulon verruil en hy het gesê dat hy opgewonde is om vir sy nuwe klub te speel.

Die 28-jarige speler is gereeld die gevaarlikste wapen in die Springbokke se (soms beperkte) aanvalsarsenaal en hy beskik oor die ongekende vermoë om selfs die kleinste geleentheid in ʼn drie te omskep.

Cheslin Kolbe kan drieë druk. Foto: GB Jordaan.

Hy het ʼn belangrike drie in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die nommernegespelers nie op die veld kan wees nie.

“Cheslin is briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Lukhanyo Am gesê nadat Kolbe ʼn reuse-aandeel in ʼn drie teen die Leeus gehad het.

In teenstelling met die losskakel-krisis lyk die Springbokke se vleuelsake baie gesond.

Benewens Kolbe kan die Suid-Afrikaners ook op die dienste van Makazole Mapimpi, Canan Moodie en Kurt-Lee Arendse reken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.