Kurt-Lee en Canan toer saam

Kurt-Lee Arendse op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Die name van Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie staan uit wanneer ʼn mens na die Bulls se toergroep vir hul jongste Europese avontuur kyk.

Want ná ʼn paar nederlae – teen plaaslike én oorsese teenstanders – het die span indringend spelers nodig wat oor die X-faktor beskik om hul spel weer ʼn hupstoot te gee.

En selfs al beteken ʼn paar swaeltjies nie noodwendig dat die rugbysomer op pad is nie, lyk die onweerswolke wat bo Loftus Versfeld opgesteek het dalk net ʼn bietjie minder dreigend met Arendse en Moodie se insluiting.

Die twee Springbok-vleuels het al vantevore gewys (lees teen Cardiff op Loftus) dat hulle goed saam kan werk, terwyl hul zoep-zap-en-zirts-lopies gereeld sorg dat verdedigers na die lug (en later na die boegoebrandewyn) gryp.

Hopelik speel die Bulls op só ʼn manier dat Arendse en Moodie genoeg van die bal sien, want ʼn mens is opgewonde as een van hulle die bal in die hande kry.

En die Bulls het tans wragties ʼn bietjie opwinding nodig – veral wanneer twee moeilike rugbyuitdagings op die span wag.

Jake White se span speel Saterdag in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Ulster in Belfast, waarna Toulouse vir hulle in ʼn Kampioenebeker-tweestryd wag.

“Ons speel in ʼn paar toernooie en dit word belangrik om die perfekte balans te vind. Ons glo dat die toerspan, asook die spelers wat tuisbly om op die Curriebeker-veldtog te konsentreer, vir die verlangde uitslae kan sorg,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

Volgens White bly spelers soos Lizo Gqoboka, Jacques du Plessis en S’bu Nkosi in Suid-Afrika agter, want hulle het meer wedstrydtyd nodig, terwyl hulle ook vir die nodige ervaring kan sorg wanneer die Curriebeker-span teen die Cheetahs in Bloemfontein te staan kom.

“Ons wil immers net so goed in die Curriebeker-reeks as in Europa vaar.”

Saterdag se wedstryd teen Ulster begin om 21:35 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls-toergroep:

Voorspelers: Bismarck du Plessis, Cyle Brink, Dylan Smith, Elrigh Louw, Francois Klopper, Gerhard Steenekamp, Janko Swanepoel, Johann Grobbelaar, Marco van Staden, Merwe Olivier, Mornay Smith, Ruan Nortjé, Ruan Vermaak, Simphiwe Matanzima, Tiaan Lange en WJ Steenkamp.

Agterspelers: Canan Moodie, Chris Smith, Cornal Hendricks, David Kriel, Embrose Papier, Harold Vorster, Kurt-Lee Arendse, Morné Steyn, Niel le Roux, Sibongile Novuka, Stedman Gans en Zak Burger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.