Kyk: Folau bly weer staande, lewer skitterspel

Israel Folau. Foto: Twitter.

Vir die tweede agtereenvolgende wedstryd het Israel Folau besluit om nie saam met sy spanmaats die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging te buig nie. Boonop het van sy spanmaats ook besluit om staande te bly.

Die 31-jarige Folau het skitterspel vir die Catalans Dragons gelewer; hy het onder meer tot drieë bygedra, terwyl hy sy eie pogings briljant afgerond het.

Sy vertoning het grotendeels bygedra dat die Dragons ’n agterstand van 14 – 0 teen Castleford Tigers op Headingley uitgewis het om die kragmeting uiteindelik met 40 – 14 te wen.

Folau en sy vrou, die Nieu-Seelandse netbalster Maria, verwag hul eerste kind en hy was amper nie deel van die aksie op Headingley nie.

“Hy het bobaasspel gelewer, maar dit was so amper en hy het nie saam met ons op die vliegtuig geklim nie,” het Steve McNamara, die Dragons se afrigter, gesê.

Die voormalige Wallabies-heelagter het egter vir Tom Davies weggestuur en die Dragons het daarna 40 onbeantwoorde punte aangeteken.

“Ek dink hy kan selfs nog beter in hierdie formaat van die spel word en hy is bereid om ongelooflik hard te werk.”

Folau het verlede week ook nie die knieg voor die wedstryd teen St Helens gebuig nie.

Hoewel sy optrede kritiek ontlok het, het McNamara gesê dat dit die speler se persoonlike keuse is.

“As spelers en afrigters is ons gekant teen rassisme, maar daar is sommige spelers wat besluit het om nie die knie te buig nie. Dit is hul persoonlike keuse en as bestuur het ons besluit dat ons enigiemand se keuse sal respekteer,” het hy gesê.

Twee van sy spanmaats, Benjamin Jullien en Sam Moa, het gister ook nie die knie op Headingley gebuig nie.

Die talentvolle voormalige Waratahs-heelagter het verlede jaar op sy Instagram-rekening geplaas dat hel op dronkaards, gays, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars wag, tensy hulle hulself bekeer. Hy het bygevoeg dat net “Jesus kan red”.

Folau se kommentaar is deur Rugby Australië veroordeel en hulle het sy kontrak beëindig. Die sportbeheerliggaam het aangevoer dat sy inskrywing die spelers se etiese kode verbreek het en dat dit ’n minagtende gebruik van sosiale media was.

Op sy beurt het Folau weer skadevergoeding van R140 miljoen geëis.

Die twee partye het egter ’n skikkingsooreenkoms bereik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam Adriaan ·

Gelukkig is daar nog mense wat hulle skaar by die waarheid en hulle beginsels verdedig. Mooi so!!!

Vrijburger ·

Ek haal my hoed af vir die man – hy het die moed van sy oortuiging!

MakersMark ·

En daar staan ‘n christen uit bo al die black matter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.