Leeus se agterlyn kry ekstra maanhare

EW Viljoen. Foto: ANA.

Die Leeus se agterlyn is besig om die slaankrag van ’n meer aanvallende, tog ewe talentvolle, Simba te kry. Nie net het Burger Odendaal die trek oor die Jukskei aangepak nie, maar die Johannesburgers het vandag ook bevestig dat EW Viljoen deel van die trop gaan word.

Die 25-jarige was deel van die Leicester Tigers-opset in Engeland, maar kon sedert verlede jaar nog net vier keer speelkans kry.

Sy rugbyloopbaan het in Bloemfontein – by Grey Kollege, waar anders? – begin, waarna hy in die Kaap vir die Stormers in aksie was. Beserings het hom egter gereeld op die kantlyn gehou en hy was in slegs 28 wedstryde vir die Kapenaars in aksie.

Maar op 1,92 m en 92 kg sal hy beslis ekstra woema en aggressie aan die Leeus-agterlyn verleen, terwyl sy veelsydigheid beteken dat van vleuel tot heelagter ingespan kan word.

Die Johannesburgers sal waarskynlik na hom kyk om die gaping te vul wat Tyrone Green – wat ’n kontrak met Harlequins in Engeland onderteken het – laat.

Leeus-ondersteuners sal ook opgewonde wees om Rabz Maxwane se vordering in Johannesburg te sien, want soos wat almal weet, is daar geen plaasvervanger vir spoed nie. En Maxwane het hope daarvan.

Hy was onder meer een van die Pro14 se topdriedrukkers – ná die afloop van die 2018‑’19-seisoen het hy 14 drieë vir die Vrystaters gedruk.

Voorlangs het die unie ook bevestig dat die Springbokstut Ruan Dreyer weer op Ellispark in die skrum sal sak. Hy was die afgelope twee seisoene by Gloucester in aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Laat ons maar net hoop dat hierdie sterbelaaide Leeu span genoeg wedstryde sal kan speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.