Limpopo Blou Bulle meet krag teen krag in liga

madeliefieDie Blou Bulle se Limpopostreek beplan om sy ligas te herskik om krag teen krag te meet in `n proefneming om klubrugby in die gebied te bevorder.

Attie Buitendag, die Limpopo Blou Bulle se nuwe amateur- en klubrugbybestuurder, het aan Pale Toe! gesê net soos met ander plattelandse streke is klubrugby in Limpopo besig om “so ietwat te kwyn”. Naboomspruit en Thabazimbi het reeds verlede jaar opgehou speel en vanjaar het Musina aangedui dat hy nie genoeg spelers het om `n span in te skryf nie.

Buitendag pleit dat jong spelers aangemoedig moet word om ná skool by klubs aan te sluit en voort te gaan om hul sport op amateurvlak te beoefen.

“Geld bly ongelukkig `n uitdaging en sakeondernemings word versoek om betrokke te raak met borgskappe om spelers die geleentheid te gee om rugby te kan speel.”

Kragtens die krag-teen-kragbeginsel is aan die klubs voorgestel dat die Waterbergklubs Northam en Potgietersrus vanjaar saam met die Noordstreek se Pietersburg/Dendron, Noordelikes, Letaba en Louis Trichardt met twee spanne elk in die Senior Liga speel.

Buitendag sê daar het nie op- of afskuiwings plaasgevind nie en word daar nou onderskei tussen die groter klubs wat volhoubaar twee spanne in die veld kan stoot en die kleiner klubs wat net een span het.

Laasgenoemde kry die geleentheid om teen hul portuur in streekverband mee te ding.

Mogol, Phagameng, Kwagga (Warmbad), Nylstroom, Amandelbult en Vaalwater speel in die Waterberg-reserweliga; en die universiteite van Venda (Univen) en Limpopo (Unilim) asook Mankweng, Seshego, Phalaborwa, Noordelikes III en Pietersburg III speel in die Noordstreek-reserweliga.

Buitendag sê die bepalings sal eers na `n forumvergadering op 23 Februarie beskikbaar wees, maar die Waterbergliga begin Vrydag 31 Maart en die res Saterdag 1 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.