Lions eers tjoepstil, brul toe kliphard

Die Lions in aksie teen Benetton tydens die Verenigde Rugbykampioenskappe. (Foto: Twitter/ Lions)

Saterdagmiddag in Treviso was die Lions met 13-28 teen Benetton met die rug teen die muur en, met net sowat 20 minute speeltyd oor, in ʼn benarde posisie.

Maar van tou opgooi, was daar nie sprake nie.

Die spelers het die stang vasgebyt, ewe skielik vlamgevat en binne ʼn paar minute drie drieë gedruk om ʼn bonuspuntsege van 32-28 oor Benetton te behaal.

Waar die Lions vir 60 minute effe loodvoetig voorgekom het, was daar eensklaps nuwe energie.

Toe was dit Benetton se beurt om aan die agterspeen te suig.

En om te dink die onweerswolke het slegs ʼn paar weke gelede donker en dreigend om die Lions en Ellispark saamgepak.

Bewerings van groot spelersongelukkigheid het die ronde gedoen en die span het byna geen kans gehad om tot die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap deur te dring nie.

Die Lions, wat nog twee tuiswedstryde teen Leinster en Zebre oorhet, kan dus steeds die uitspeelrondes haal, iets wat bra onmoontlik gelyk het.

Onthou gerus ook dat Leinster reeds vir die uitspeelrondes gekwalifiseer het en net soos verlede seisoen dalk hul akademiespelers op toer na Suid-Afrika sal stuur.

Zebre is boonop die melkkoeie van die reeks en steeds segeloos. Hulle het wel 10 punte, maar dis alles bonuspunte.

As die Lions dus op Saterdag se sege kan voortbou, kan hul drome bewaarheid word.

Lig die hoed vir die Lions se Emmanuel Tshituka (twee drieë), Francke Horn, Ruan Venter, Asenathi Ntlabakanye, PJ Botha en die strydros Willem Alberts.

Hulle het die vonk aangesteek en dit het Sanele Nohamba, Marius Louw, Edwill van der Merwe, Rabz Maxwane en Quan Horn agterlangs laat gedy.

Punte:

Benetton 28 (21): Drieë: Joaquin Riera, Marcus Watson, Siua Maile, Henry Time-Stowers. Doelskoppe: Jacob Umaga (4).

Lions 32 (10): Drieë: Quan Horn, Emmanuel Tshituka (2), Sibahle Maxwane. Doelskoppe: Sanele Nohamba (3). Strafdoele: Nohamba (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.