Malherbe of Kolisi; Stonehouse of Nienaber?

Frans Malherbe het vanjaar sy 50ste wedstryd vir die Springbokke gespeel. Foto: Wikus de Wet/AFP.

SA Rugby het vandag aangekondig dat Lukhanyo Am, Kurt-Lee Arendse, Eben Etzebeth, Siya Kolisi en Frans Malherbe onder die benoemdes vir Suid-Afrika se speler van die jaar is.

Am, Etzebeth en Kolisi het verlede jaar ook onder die uitgelese groep getel, met die Springbok-kaptein wat uiteindelik die gesogte toekenning in ontvangs geneem het.

Dan het Arendse met sy sewe drieë in sewe toetse die kollig gesteel, terwyl Malherbe ongetwyfeld Springbokrugby se onbesonge held is.

Die 31-jarige stut is die rots waarop Suid-Afrika se skrumsukses gebou is en hy het ʼn barshou in die Bokke se oorwinning op Twickenham gespeel.

In die span van die jaar-kategorie sal die Springbokke sake met die Pumas en die Stormers uitspook.

Pure Puma-passie. Jimmy Stonehouse word op die spelers se skouers gedra. Foto: Twitter

Die Laevelders het gewys dat die Curriebeker hoegenaamd nie in ʼn museum hoort nie toe hulle Griekwas met 26–19 in die eindstryd in Kimberley geklop het.

Dan het die Stormers amok in die Vernigde Rugbykampioenskap gemaak om met die uiteindelike louere weg te stap.

Nodeloos om te sê is die wedloop om die afrigter van die jaar-titel dan tussen Jimmy Stonehouse (Pumas), John Dobson (Stormers) en Jacques Nienaber (Springbokke).

Sacha Feinberg-Mngomezulu is ook in twee kategorieë benoem, terwyl Selvyn Davids, Zain Davids en JC Pretorius die Blitsbokke se bestes is.

Mark Alexander, president van SA Rugby, het al die benoemdes gelukgewens.

  • Benoemdes:

Speler van die jaar: Lukhanyo Am, Siya Kolisi, Kurt-Lee Arendse, Eben Etzebeth en Frans Malherbe.

Vrouespeler van die jaar: Lusanda Dumke, Aseza Hele, Zintle Mpupha, Aphiwe Ngwevu en Nadine Roos.

Jong speler van die jaar: Sacha Feinberg-Mngomezulu, Jaden Hendrikse, Canan Moodie, Evan Roos en Henco van Wyk.

Sewesspeler van die jaar: Selvyn Davids, Zain Davids en JC Pretorius.

Junior Springbok-speler van die jaar: Sacha Feinberg-Mngomezulu, Suleiman Hartzenberg en Ruan Venter.

Span van die jaar: Pumas, Stormers en Springbokke.

Afrigter van die jaar: John Dobson (Stormers), Jacques Nienaber (Springbokke) en Jimmy Stonehouse (Pumas).

Curriebekerspeler van die jaar (Premierliga): Sebastiaan de Klerk (Pumas), Willie Engelbrecht (Pumas) en Devon Williams (Pumas).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

B-Man ·

Ek voel Am het ‘n onregverdige voordeel as hy twee keer vir speler van die jaar benoem is.

piet ·

Kolisi en Etzebeth is ook verlede jaar benoem met Kolisi wat aangewys is as speler van die jaar. Hierdie 3 spelers lewer konstant spel van uitstaande gehalte.

Leon ·

Definitief Jimmy Stonehouse as afrigter en Pumas span van die jaar

piet ·

Ons het darem maar ‘n fantastiese kaptein en speler. Dis nie aldag dat jou kaptein jaar vir jaar benoem word as speler van die jaar nie. Lei deur voorbeeld.

Net ek ·

Sal waarskynlik of Am of Kolisi wees, hulle voldoen aan ander kriteria ook wat Etzebeth en Malherbe nie aan voldoen nie. My 5c gedagte……………..

Stephen ·

Jimmy Stonehouse die beste afrigter in SA. Hierdie benoeming kom hom dubbel en dwars toe.

duiweboer ·

Frans Malherbe is by verre weg die beste stut in die wereld die jaar. Hy verdien dit en Stonehouse ook. Neem n klein bond tot currie beker kampioen. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.